Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Geweld ‘het sport in SA geword’ sê Wiers-regter

Moord en geweld is aan die orde van die dag en veral geweld teen vroue het bykans ’n nasionale sport in dié diverse en mooi land van ons geword.

Só het regter Gerrit Muller Maandagmiddag in die hooggeregshof in Polokwane gesê toe hy Tanya Wiers (44) se moordenaar, Frans Maela (28), tot twee keer lewenslange tronkstraf vir haar verkragting en moord gevonnis het.

Tanya Wiers (44), 'n ma van drie kinders, is in 2017 in Polokwane vermoor. Foto: Verskaf

Maela is tot ’n verdere 15 jaar weens roof met verswarende omstandighede gevonnis. Dit is altesaam 65 jaar tronkstraf, maar die vonnisse sal samelopend uitgedien word.

“Wat erger is, is dat mense vir slegs selfone vermoor word,” sê Muller.

Hy sê vroue is nie veilig in hul eie huise nie, al is daar hoë mure en diefwering. “Mense leef in huise wat soos tronke lyk.”

Hy het vir Maela, wat met ’n rooi waslap om sy nek emosieloos in die beskuldigdebank gestaan het, gesê “jy moet permanent uit die samelewing verwyder word”.

“Die Wiers-gesin het nie net ’n vrou en ’n ma verloor nie, maar is vir altyd ontneem van haar liefde vir hulle. Haar ouers en broers ly ook. Die invloed van haar moord op die familie is geweldig,” sê Muller.

Adv. David Sebelebele en Linda Geyer, Tanya Wiers se ma, gesels in die hooggeregshof in Polokwane. Foto: Marietie Louw-Carstens

Wiers is op 7 Februarie 2017 in haar huis in Eduanpark in Polokwane deur Maela oorval toe sy helder oordag van ’n nabygeleë winkel by die huis aangekom het.

Hy het haar meer as 30 keer met ’n skêr en ’n steakmes in haar nek en gesig gesteek. Haar oë is uitgekerf.

Muller sê Maela het Wiers wreedaardig en gewelddadig vir gierigheid en selfbevrediging vermoor.

Rolf Wiers is bly sy vrou, Tanya, se moordenaar is uit die samelewing verwyder. Foto: Marietie Louw-Carstens

Adv. David Sebelebele, staatsaanklaer, het ter strafverswaring aan die hof gesê Wiers is tien keer in haar gesig gesteek en haar oë is verwyder. Daar was ses steekwonde aan haar nek en twee skaafmerke. In haar bors was daar sewe steekwonde en in haar hande en arms was daar nog sewe steekwonde.

“’n Mens kan jou nie indink waardeur sy moes gaan toe sy in haar eie huis verkrag en vermoor is nie.”

William Kovani, Maela se prokureur, het ná vonnisoplegging ’n aansoek om verlof tot appèl voor Muller gebring. Hy het aangevoer die polisie het nie die regte prosedures gevolg om DNS-monsters by Maela te neem nie.

Muller het die aansoek van die hand gewys.

Linda Geyer, Wiers se ma, het gehuil van blydskap toe Maela gevonnis is. Sy het ná die tyd vir Sebelebele in die hof omhels en hom bedank vir sy harde werk.

Die Wiers-egpaar se drie kinders was nie in die hof nie. Rolf Wiers, Tanya se man, sê hy is bly Maela is uit die samelewing verwyder.

“Dit is nou ’n hoofstuk wat afgehandel is. Ons as familie moet nou finaal bye sê vir haar.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.