Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Gruwelverhale van geboortes by vroedvrou van Pta

’n Jong ma het hardop begin bid en gepleit dat God asem in haar pasgebore dogter sit.

Carien Möller het in die geboortebad gesit, die plasenta nog nie eens uitgeskei nie, maar sy het met alles in haar gebid terwyl die vroedvrou en doula ’n halfuur lank noodbehandeling op klein Sophia toegepas het.

Die meisie, wat op 11 Julie 2019 by die You & Me-geboortesentrum van Yolande Maritz in Pretoria gebore is, het breinskade opgedoen.

“Sophia is om 12:41 gebore. Sy het geen reaksie getoon nie. Haar ogies was toe. Sy het geen pols gehad nie. Sy het nie asemgehaal nie . . .”

Möller is een van verskeie ma’s wat Woensdag voor die Suid-Afrikaanse Raad van Verpleging (SARV) in die tugverhoor teen Maritz getuig het.

Ouers en familielede kom by die tugverhoor van Yolande Maritz aan met plakkate van babas wat glo dood of gestremd gelaat is nadat die vroedvrou na bewering by die geboortes betrokke was. Foto: Deaan Vivier

Maritz, ’n geregistreerde verpleegkundige wat ook as vroedvrou by die SARV geregistreer is, het in die hof verskyn ná aantygings dat ’n paar pasgebore babas by wie se geboortes sy betrokke was, dood of gestremd gelaat is.

Die vyf hoofaanklagte van onprofessionele gedrag teen haar sluit onder meer in dat sy glo wetend of nalatig nie sekere pasiënte se toestand sou assesseer, monitor en evalueer nie, buite ’n hospitaal en teenstrydig met kraamriglyne ’n verlostang sou gebruik, nie mediese hulp ontbied het toe die toestand van haar pasiënte dit vereis het nie, en in sommige gevalle nie akkurate rekords gehou het nie.

Daar is ook klagtes dat sy onprofessioneel opgetree het deur medikasie voor te skryf wat sy nie gemagtig was om te doen nie.

Venetia Pretorius, die eerste getuie, het getuig sy het voorheen in ’n staatshospitaal ’n traumatiese miskraam gehad. Toe sy dus weer swanger raak met haar seun, Janco, het sy op ’n vroedvrou besluit.

Die seun se verwagte datum was 5 September 2015. Op 4 September het Pretorius-hulle na Maritz gegaan vir ’n roetineondersoek.

“Yolande het ’n interne ondersoek gedoen en haar reaksie was ‘oeps’. Sy het my water gebreek.”

Daarna het ’n kraamproses van letterlik ure gevolg. Volgens Pretorius het Maritz vir haar water gegee om te drink.

Foto’s van die vroedvrou Yolande Maritz se beweerde slagoffers. Foto: Deaan Vivier

Sy het erge pyn begin ervaar en, toe die baba steeds nie gebore word nie, het sy glo verskeie kere vir Maritz gevra om haar na ’n hospitaal te neem.

Telkens was die antwoord glo dat hulle net sou doen wat sy (die vroedvrou) ook doen.

Later het Maritz glo ’n verlostang begin gebruik en ook aan Pretorius gesê dat sy “verkeerd druk”.

Yolande Maritz skuil agter haar verloofde, Paul Fouchee, terwyl hy sy baadjie uittrek om haar gesig vir die fotograwe weg te steek. Foto: Deaan Vivier

Toe die baba uiteindelik uitkom, was hy, aldus die ma, potblou.

“Hy het moeilik asemgehaal, asof iets in sy keel vassit. Yolande het egter gesê sy moet eers aan my aandag gee – ek het toe eers besef ek het geskeur.

“Toe sy na Janco kyk, het hy nie reageer nie. Hy het sy oë vir ’n oomblik oopgemaak, en dit toegemaak. Hy het dit nooit weer oopgemaak nie.”

Maritz het die ma en baba wel later hospitaal toe geneem, waar hy 12 dae later dood is.

Die vroedvrou het glo beweer Janco het ’n epileptiese aanval gehad.

Daar is egter deur dokters aan Pretorius gesê hy is dood weens orgaanversaking.

Sy het getuig sy het tydens vooraf konsultasies aan Maritz genoem dat haar man ’n epilepsielyer is en dat sy ’n groot vrees het dat haar kind dit ook kon kry.

Geen onmiddellike mediese hulp

Verskeie ma’s het getuig hulle is vooraf gerusgestel dat daar ’n ambulans op die perseel van die geboortesentrum van Maritz is, gereed vir enige noodgeval.

Dit was egter nie die geval nie.

Van hulle is ook water of ’n energiedrankie gegee. Hulle sou kort daarna “ongelooflike pyn” ervaar met erge kontraksies.

Möller het onder meer getuig dat Maritz byna 20 minute voordat Sophia gebore is, reeds gesukkel het om die baba se hartklop op te spoor.

Toe sy dit wel kry, was dit tussen 70 en 90 slae per minuut – ’n aanduiding dat die fetus geweldige spanning ervaar.

“Yolande het niks daaroor gesê nie, net dat ons die baba moet uitkry. Steeds is geen ambulans ontbied nie.”

Die verpleegster en vroedvrou Yolande Maritz koes agter haar verloofde, Paul Fouchee, vir die kameras. Foto: Deaan Vivier

Maritz se vervreemde dogter, Estuné, ook ’n doula, het getuig van kere wat haar ma haar sou vra om vir die vroue in kraam “Rescue Remedy”, ’n homeopatiese middel, te gee. Dit was egter net die naam wat sy sou gebruik as sy bedoel het Cytotec – ’n middel wat gebruik word om die kraamproses aan te help of om postpartum-bloeding te stop.

Een ma het selfs getuig dat Maritz “vies” was toe sy opgemerk het dat daar ’n wit poeier agtergebly het in die water wat vir haar gegee is om te drink.

Ook Madelein Roux se water het gebreek tydens ’n interne ondersoek.

Ná ure in kraam is sy aangesê om te stap en deur ’n kontraksie aan te hou loop of te hurk.

My man het gevra of alles oukei is. Yolande het gesê kyk na die monitor. Dit was ’n reguit streep.

Sy was later naar, haar kontraksies sekondes uit mekaar en baie seer. Maritz het haar toe glo op ’n jogabal laat sit en hop omdat die baba glo teen haar heup “vassteek”.

Roux het getuig sy het aanhou vra vir hulp.

Toe haar dogter uiteindelik gebore word, moes Maritz en ’n doula hartmassering op die baba doen.

“My man het gevra of alles oukei is. Yolande het gesê kyk na die monitor. Dit was ’n reguit streep.”

’n Ambulans is wel later ontbied.

Roux se dogter is ’n rukkie later dood verklaar.



Bongani Mazibuko, Maritz se regsverteenwoordiger, het verskeie voorbeelde aan die klaers genoem waar hul getuienis verskil van wat Maritz in haar rekords aangeteken het.

So is daar aangeteken dat toe Pretorius om hulp gevra het, haar man glo geweier het. Pretorius het dit ontken.

Aan Möller is daar gestel dat sy voor Sophia se geboorte ’n infeksie gehad het, maar dat sy antibiotika geweier het.

Möller het verduidelik dat sy “net candida” gehad het, wat juis deur antibiotika vererger word.

Mazibuko het dit aan nog ’n ma gestel dat sy ’n roker is en dat Maritz haar gewaarsku het oor die gevare van rook tydens swangerskap.

Aan ’n ander is dit gestel dat Maritz haar gewaarsku het dit is gevaarlik om, nadat ’n eerste baba met ’n keisersnee gebore is, die tweede een natuurlik te wil kry.

• Die tugverhoor gaan later voort.

Meer oor:  Carien Möller  |  Yolande Maritz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.