Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Kleuterskool se eienares in hof oor skokvideo

WAARSKUWING: Die video's in hierdie berig kan sommige kykers ontstel.

Die voormalige eienares van die kleuterskool in Carletonville waar drie voorvalle van kindermishandeling aangemeld is, het Vrydag in die hof verskyn.

Janine Edwards, voormalige eienares, se saak word afsonderlik van Nellie Sinwametsi s’n aangehoor. Sinwametsi het vroeër vanjaar in die landdroshof in Oberholzer, noordwes van Carletonville aan die Wes-Rand, op ’n voorlopige aanklag van die aanranding van ’n minderjarige verskyn.

Die video’s waarin ’n mens kan sien hoe ’n vrou drie kleuters by die skool herhaaldelik slaan, is op Facebook versprei

Albei verdagtes is op borgtog van R3 000 vrygelaat. Edwards se saak is tot 30 Augustus uitgestel, terwyl Sinwametsi se saak na die streekhof oorgeplaas is en sy weer op 29 Augustus moet verskyn.

Luidens ’n verklaring van Vroue en Mans teen Kindermishandeling is Sinwametsi se saak oorgeplaas ná ’n opdrag van die senior aanklaer. Die organisasie dring aan dat die persoon wat die video geneem het, ook in hegtenis geneem en aangekla moet word.

“Hoewel ons verheug is dat die eienares ook aangekla is, moet al drie oortreders ingevolge betrokke wetgewing aangekla word. Die wet maak voorsiening vir dringend noodsaaklike aanmelding van kindermishandeling. Daarom moet die videograaf ook aangekeer word voor die beskuldigdes weer in die hof moet verskyn,” lui die verklaring.

“Die stille protes deur ma’s en die gemeenskap buite die hof is bewys van die ernstige lig waarin die gruwelike behandeling van peuters en kleuters deur mense wat hulle moet beskerm, beskou word.”

Edwards het volgens haar prokureur, Danie van Zyl, eers in Maart vanjaar van die video’s bewus geword. Van Zyl het gesê ’n ander voormalige werknemer by die skool het Edwards twee weke tevore gekontak en gesê sy gaan Edwards ’n les leer as sy haar nie betaal nie. Sy het toe vir Edwards gesê sy het die video’s in haar besit en dat sy dit op sosiale media gaan plaas as Edwards haar nie betaal nie.

Sy het glo ook gesê dat sowel Edwards as Sinwametsi haar sleg behandel het terwyl sy by die kleuterskool gewerk het. Sy het toe een van die video’s aan Edwards gestuur, wat geweier het om haar te betaal.

Edwards het daarna ’n klag by die polisie in Carletonville ingedien.

Die kleuterskool is in April gesluit nadat bevind is dit het nie ’n geldige bedryfslisensie nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.