Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Koelkop Kallie buite hof waar chaos uitbreek

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het koel en kalm gebly terwyl daar in sy gesig geskree is en ’n skermutseling buite die hof ontstaan het oor sy teenwoordigheid by Duduzane Zuma se hofverskyning Donderdagoggend in Randburg, Johannesburg.

Die Black First Land First (BLF)-organisasie het probeer keer dat Kriel die hof binne gaan. Hulle het joernaliste ook probeer keer om hul werk te doen.

Kallie Kriel met sy aankoms by die hof. Foto: Felix Dlangamandla

Dit het uiteindelik in ’n stoeiery buite die landdroshof in Randburg gelei, waar ’n saak van strafbare manslag teen Duduzane, seun van oudpres. Jacob Zuma, aangehoor word.

Die saak hou verband met ’n noodlottige motorongeluk in 2014 op die M1-hoofweg in Johannesburg.

Kallie Kriel word buite die hof deur lede van die BLF gekonfronteer. Foto: Felix Dlangamandla

Verskeie mense verbonde aan BLF het by die hof opgedaag en aangevoer dit is onregverdig dat ’n swart man vervolg word in ’n saak waarin hy aanvanklik onskuldig bevind is.

Nadat die saak uitgestel is, het Kriel probeer om die media toe te spreek. (AfriForum het beplan om Duduzane privaat te vervolg omdat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) besluit het om nie met die saak teen hom voort te gaan nie.)

Die polisie tree tussen beide. Foto: Felix Dlangamandla

BLF-lede het Kriel egter toegesnou dat “dié ’n saak van swart mense is en dat geen rassis vir ons mense sal praat nie”.

Andile Mngxitama, leier van die BLF, het verder daarop aangedring dat die media oor die waarheid verslag doen en moet ophou om partydig te wees.

Dit was in hierdie woordewisseling, wat lede van die media probeer het om foto's van te neem, dat daar ’n gestamp en gestoot ontstaan het tussen Hanno Labuschagne, ’n TV-kameraman van kykNET, en Lindsay Maasdorp, lid van die BLF.

Die BLF se Lindsay Maasdorp is glo deur 'n kameraman in die gesig geslaan. Foto: Isabel Venter

Maasdorp beweer Labuschagne het hom met die vuis bygedam en sy lip stukkend geslaan.

Maasdorp het gesê dat hy die saak gaan verder voer, nadat die polisie by die hof geweier het om ’n saak aanhangig te maak.

Lindsay Maasdorp van die BLF beweer hy is aangerand. Foto: Felix Dlangamandla

Labuschagne ontken dit dat hy Maasdorp geslaan het, en sê hy het net probeer om sy werk te doen. Volgens hom was daar ’n redelike gewoel op die trappe en het baie mense aan mekaar gestamp en gestoot om vir Kriel en Mngxitama af te neem.

Maasdorp is dieselfde man wat Maandag buite die handelshof in Johannesburg afgeneem is waar Duduzane op aanklag van korrupsie verskyn het. Toe het hy op die media gevloek en joernaliste gedreig, het EWN berig.

WAARSKUWING: Die onderstaande video wat deur EWN op hul Facebook-blad gelaai is, bevat kru taal.

Meer oor:  Duduzane Zuma  |  Hof  |  Blf  |  Kallie Kriel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.