Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Krugersdorp-3: Parool moontlik ná 25 j.

Die drie Krugersdorp-moordenaars sal almal ná 25 jaar om parool kan aansoek doen, al lyk dit asof hulle Maandag saam oor die 1 000 jaar tronkstraf opgelê kan word.

Die hooggeregshof in Johannesburg het Donderdag die staat se voorgestelde vonnis vir die baasbrein, Cecilia Steyn (38), asook Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (21) in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor. Die vonnisoplegging word Maandag verwag.

Volgens die staat se betooghoofde hoop hy op minstens 309 jaar vir Valentine, 497 jaar vir Cecilia en 339 jaar vir Marcel. Dis ’n allemintige 1 145 jaar agter tralies vir die drie saam.

Cecilia Steyn verlede Donderdag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Simon Sonnekus

Hoewel die vonnis in jare baie lyk, word alle vonnistydperke samelopend met die lewenslange vonnis (25 jaar) uitgedien, wat beteken elke veroordeelde sal ná 25 jaar kan aansoek doen vir parool, sê die strafregkenner dr. Llewelyn Curlewis.

Dis egter nie ’n gegewe dat hul paroolaansoeke sal slaag nie.

Die drie is in Junie vanjaar skuldig bevind aan onderskeidelik 32, 22 en 21 klagte teen hulle.

Die staat vra vir lewenslange vonnisse op elk van die 11 moorde (wat samelopend uitgedien sal word), behalwe wat Marcel betref in die moorde op past. Reg Bendixen en Mikeila Valentine. Die staat vra vir dié twee moordklagte net 20 jaar elk, omdat Marcel toe nog minderjarig was (sy was 14 jaar oud).

Cecilia is skuldig aan al 11 moorde, Valentine aan sewe van die 11 en Marcel aan agt.

Adv. Gerrit Roberts SC, staatsaanklaer, het Donderdag vir ’n swaarder vonnis gevra op die twee aanklagte wat met die rampokker-onderneming verband hou.

Roberts het gesê omdat die rampokker-onderneming gestig is om te moor, en aangesien moord die hoogste vonnis vra, dié onderneming selfs ’n swaarder vonnis verdien as die moorde.

Zak Valentine, Cecilia Steyn en Marcel Steyn verlede Donderdag in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Simon Sonnekus

Op die intimidasie-klag vra die staat tien jaar elk vir Cecilia en Valentine en agt jaar vir Marcel, omdat sy minderjarig was. Die staat vra dieselfde vonnis vir die bomontploffings.

Vir die kwaadwillige beskadiging van eiendom hoop die staat dat Cecilia en Valentine elk drie jaar kry en Marcel twee jaar – ook weens haar minderjarigheid.

Vir regsverydeling; die proses om Valentine se dood te versin en Jarod Jackson te vermoor met die doel om ’n lewenspolis te bekom, vra die staat drie jaar elk vir Cecilia en Valentine. Die staat hoop ook dié twee kry 20 jaar elk en Marcel tien jaar vir sameswering om moord te pleeg.

Wat die vyf rooftogte met verswarende omstandighede betref vra die staat vir 15 jaar op elke aanklag vir al drie die veroordeeldes.

Die bedrogklag met betrekking tot die lewenspolis waar Valentine sy dood versin het sodat dit kon uitbetaal – vra die staat 15 jaar vir Cecilia en Valentine. Hy vra ’n ekstra drie jaar op elk van vier ander bedrogverwante aanklagte.

Marcel is nie skuldig aan die bedrogklagte rakende Valentine se “dood” nie.

Dan vra die staat nog drie jaar vir al drie die veroordeeldes vir kredietkaartbedrog wat met een van die afspraakmoorde verband hou.

Al drie is skuldig vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie en behoort daarvoor elk onderskeidelik 15 en drie jaar elk te kry, meen die staat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.