Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Mihalik-saak uitgestel oor tolk nie beskikbaar is

’n Zoeloe-tolk was nie Dinsdag beskikbaar toe die drie mans wat van die moord op adv. Pete Mihalik (50) in Oktober verlede jaar beskuldig word in die landdroshof in Kaapstad verskyn het nie.

Die saak is uitgestel en sal voortgaan sodra ’n tolk gekry word.

Die drie verdagtes Dinsdag in die landdroshof in Kaapstad. Van links is Sizwe Biyela, Nkosinathi Khumalo en Vuyile Maliti. Foto: Jaco Marais

Sizwe Biyela (26), Nkosinathi Khumalo (31) en Vuyile Maliti (35) het op aanklagte van moord, poging tot moord en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en patrone in die hof verskyn. Die drie sou Dinsdag ’n borgtogaansoek indien.

Die hof het gehoor dat Maliti die hofverrigtinge kan volg, maar nie Biyela of Khumalo nie. Biyela en Khumalo is van KwaZulu-Natal.

Soos met hul vorige verskynings was gewapende lede van die Wes-Kaapse bende-eenheid in hof 16 teenwoordig. Buite is hofgangers en hul sakke ’n tweede keer deur wagte deurgesoek.

Mihalik is die oggend doodgeskiet toe hy sy twee kinders voor hul skool in Groenpunt, Kaapstad, afgelaai het. Sy 8-jarige seun is gewond.

Khumalo is sowat twee uur ná die voorval naby die Gallow Hills-verkeersdepartement in hegtenis geneem toe hy glo ’n stopteken verontagsaam het. ’n Passasier in die voertuig, vermoedelik Biyela, het toe glo voor die stuurwiel ingespring en van die toneel af weggejaag.

Hy is egter dieselfde aand deur speurders by ’n bushalte in Bellville in hegtenis geneem. Hy was glo op pad terug KwaZulu-Natal toe.

Nkosinathi Khumalo (voor) en Vuyile Maliti word begelei uit die hof na daar vir uitstel gevra is. Foto: Jaco Marais

Maliti, ’n taxibaas van Kuilsrivier, het hom ’n week ná die moord aan die polisie in Seepunt oorgegee.

Maliti se regsverteenwoordiger, Jannie Kruger, het met hul vorige verskyning in Januarie die hof gevra om die staat te beveel om ’n video wat Maliti glo met die voorval verbind, aan die verdediging te verskaf. Hy het gesê doen die staat dit nie, kan dit die staat in ’n slegte lig stel.

Die staatsaanklaer, adv. Helene Booysen, het hierop geantwoord dat Maliti nie direk met die moord verbind word nie.

’n Voertuig wat hy glo gehuur het, ’n silwer Volkswagen Polo, word glo op die video gesien. Dit is glo die voertuig wat deur die vermeende huurmoordenaars gebruik is die dag van die moord.

Die video is glo ook aan Maliti en sy vrou gewys die dag waarop hy hom oorgegee het.

Netwerk24 het vroeër berig dat bronne sou gesê het dat Maliti die twee huurmoordenaars se dienste bekom het. Hy is volgens bronne egter nie die baasbrein agter die moord op Mihalik nie. Die ondersoek na wie die baasbrein is, gaan glo nog voort.

Die saak gaan vir verhoor na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas word.

Meer oor:  Sizwe Biyela  |  Adv. Pete Mihalik  |  Moordverhoor  |  Hof  |  Uitgestel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.