Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: NK-wildboer gee hom oor in renosterhoringsaak

Kobus Botes, bekende sakeman en wildboer van Kuruman in die Noord-Kaap, het Maandag in die streekhof op die dorp saam met sewe medebeskuldigdes verskyn in verband met ’n saak van die besit van en handel in renosterhoring.

Kobus Botes word saam met sewe medebeskuldigdes in verband met ’n saak van die besit van en handel in renosterhoring aangekla. Foto: Facebook/Marita Botes

Wiets Jacobus (Kobus) Botes was vroeër ’n direkteur van Blue Chip Mining Solutions, ’n groot mynbou-onderneming wat in 2015 in sakeredding geplaas is. Hy het sy aandele in dié onderneming later aan familielede verkoop.

Botes het homself Maandagoggend aan die Valke en die polisie se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies oorgegee en is ná sy verskyning in die hof op waarskuwing vrygelaat. Die voorlopige klagstaat dui nie aan wat sy beweerde aandeel in die saak is nie.

Die ander sewe, Yu La Cheng, Zhilin Tang, Robert Ramashiya, Lipud Alina Mabula, Tlholohelo Mary-Angel Sibanda, Thandiwe Agnes Mosale en Gino Gumede, is in Januarie vanjaar in twee voorvalle in Kuruman en Vryburg deur die polisie vasgetrek nadat hulle in die besit van renosterhorings betrap is.

Cheng word ook daarvan aangekla dat hy sonder geldige reisdokumente in die land is.

Lt.kol. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, het toe gesê die vier mans en drie vroue sal van die besit van en handel in renosterhoring aangekla word.

“Die veediefstaleenheid en blitspatrollie het die mans vasgetrek. Dit is deel van ’n veldtog om ons beskermde spesies te beskerm.”

Volgens haar het polisielede in Kuruman hul gereelde patrolliewerk gedoen toe hulle op twee verdagte voertuie afgekom het.

“Die polisie het omgedraai om die voertuie te deursoek, maar toe was een van die voertuie al weg. In die ander motor het hulle op twee Chinese mans en nog ’n man afgekom wat deursoek en ondervra is.

“By nadere ondersoek het dit geblyk die mans dryf handel in renosterhoring. Foto’s van horings is op hul selfone gevind. Hulle is in hegtenis geneem.

“Die polisielede het dadelik hul kollegas in Vryburg in kennis gestel om vir die ander motor op die uitkyk te wees.

Die polisie het op renosterhorings van R600 000 afgekom. Drie vroue en ’n man is in hegtenis geneem.

“Die tweede motor is in Vryburg voorgekeer en deursoek. Die polisie het op renosterhorings van R600 000 afgekom. Drie vroue en ’n man is in hegtenis geneem.”

Die saak is tot 20 September uitgestel sodat die klagstaat gefinaliseer kan word en daar op ’n verhoordatum besluit kan word.

Cheng en Tang bly in aanhouding. Hulle het voorheen om borgtog aansoek gedoen, maar dit is geweier.

Die res van die beskuldigdes is vrygelaat en gewaarsku om weer in September in die hof te verskyn.

Meer oor:  Kuruman  |  Renosterhoring  |  Wildboer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.