Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: ‘Ons sal nooit weer veilig voel,’ getuig weduwee

Ou wonde is weer oopgekrap vir die weduwee van Johann Heunis, wat twee jaar terug op sy kleinhoewe buite Pretoria doodgeskiet is.

Mariandra Heunis het Donderdag en Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria getuig in die verhoor van Justice Sethlangu (37).

Die staat voer aan Sethlangu was een van die twee aanvallers wat in Oktober 2016 ingebreek het by Johann en Mariandra se huis op hul kleinhoewe in die Kameeldrift-area noordoos van Pretoria.

Mariandra Heunis hou die hangertjie met ’n vingerafdruk van haar vermoorde man daarop vas.Foto: Isabel Venter

Mariandra was toe agt maande swanger met hul vierde kind, André.

Mariandra het Vrydag in kruisverhoor herhaaldelik getuig Sethlangu was een van die aanvallers.

Hy is bykans ’n jaar ná die aanval in hegtenis geneem, waarna Mariandra hom in ’n uitkenningsparade uitgewys het.

“Ek het sy gesig herken. Ek sal nooit sy gesig vergeet nie, hy was in my huis,” het sy getuig.

Sy, Johan en hul oudste dogter, Mieke (toe vier jaar oud), het op die boonste verdieping van hul huis voor die televisiestel aan die slaap geraak.

Al wat sy het as herinnering aan haar man en pa van haar vier kinders. Dié hangertjie van Johann Heunis se vingerafdruk is kort na sy skietdood gemaak. Foto: Isabel Venter

Sy het die aanvallers duidelik gesien omdat die gesin vergeet het om die ligte in die sitkamer af te skakel. Een van die aanvallers het ’n vuurwapen gehad.

Sethlangu was die tweede aanvaller en was ongewapen, het Mariandra getuig.

Hy het aan sy makker gesê “just kill him”, voordat dié gehoor gegee het en Johann in die kop geskiet het.

Johann was toe al swaar gewond. Die gewapende man het sewe skote afgevuur, wat Mieke nouliks gemis het, maar haar pa ses keer getref het.

Adv. Jerry Mtshwati, Sethlangu se regsverteenwoordiger, het dit aan Mariandra gestel dat sy vooraf ’n foto gewys is wat haar in staat gestel het om sy kliënt uit te ken.

Hy het dit verder ook aan haar gestel dat sy Sethlangu se eerste hofverskyning in die landdroshof bygewoon het en hom só uitgeken het.

Mariandra het dit ontken.

Sy het herhaaldelik aan Mtshwati bevestig dat sy Sethlangu uitgeken het oor die kenmerkende donker verkleuring op sy wangbene, sy oë en liggaamsbou.

Sethlangu het by monde van Mtshwati gesê hy simpatiseer met die dood van Johann, maar dat hy nie die skuldige is nie.

“Ek waardeer sy simpatie, maar ongelukkig gaan simpatie nie my man terugbring nie,” was Mariandra se reaksie.

Al wat sy nou van haar man oor het, is een van sy vingerafdrukke wat ná sy dood verewig is op ’n silwer plaatjie wat sy aan ’n hangertjie om haar nek dra.

“Dit is my man wat vermoor is”

Twee jaar later leef Mariandra en haar kinders nog in vrees.

Sy het Vrydag getuig hoe sy nog weekliks berading ontvang. Dieselfde geld die kinders.

“Ons het nooit teruggekeer na die huis nie en sal nooit weer veilig voel nie. Ons woon nou in ’n sekuriteitskompleks, maar ons leef steeds in vrees elke aand as dit donker word.

“Die kinders leef nie net met die trauma van hul pa se moord nie, maar ook met die verlies van ’n pappa.”

Daarom sal sy Mieke nie laat getuig in die hof nie.

Kort ná André se geboorte het sy begin werk om die pot aan die kook te hou. André is gebore die dag ná sy pa se begrafnis.

“Ons het ongelukkig nie lewensversekering gehad nie, ek moes met niks oorbegin.”

Pad vorentoe

Mariandra is weer alleen nadat haar verhouding met die Sweedse aktivis en rolprentvervaardiger Jonas Nilsson,beëindig is.

“Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar ek het dit geneem vir my kinders. Ons het goed reggekom tot nou en ons sal verder goed op ons eie regkom, ons is gerat daarvoor. Ons is nie kwaaivriende nie, maar dit bly seer,” het Mariandra gesê oor die verhouding wat sy beëindig het.

Hiervoor is hy ook vas:

Buiten vir die aanval en moord op Johann Heunis word Sethlangu ook daarvan beskuldig dat hy en ander verdagtes in 2016 by twee ander huisrooftogte in Kameeldrift betrokke was.

Die ander verdagtes is nog nie aangekeer nie.

In Junie 2016 is Sephanus Lourens en Maria Beets ook in hul huis vasgebind en beroof.

Dr. Marti Koen is in dieselfde tyd in haar huis aangeval, vasgebind en beroof. Koen het ook vir Sethlangu uitgewys op ’n uitkenningsparade.

Tydens haar getuienis het die hof gehoor Sethlangu se vingerafdruk is op haar huis se glasdeur gevind.

Meer oor:  Johann Heunis  |  Justice Sethlangu  |  Doodgeskiet  |  Pretoria  |  Weduwee  |  Kleinhoewe  |  Verhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.