Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Oudpres. Zuma laat, mis seun se tyd in hof
Duduzane Zuma verlaat die hof nadat die saak teen hom uitgestel is. Foto: Felix Dlangamandla

Oudpres. Jacob Zuma het Donderdag by die landdroshof in Randburg opgedaag waar sy seun Duduzane verskyn het op klagte van strafbare manslag, maar hy was te laat vir die vlugtige verrigtinge.

Die saak teen Duduzane (34) is tot 23 Augustus uitgestel.

Dit was die tweede keer dié week dat hy in die hof verskyn het.

Hy het vroegoggend, begelei deur ’n groot groep veiligheidswagte, by die hof opgedaag.

Met aanvang van die verrigtinge het adv. Mike Hellens, Duduzane se regsverteenwoordiger, aangedui dat hulle nie beswaar het daarteen as die media die hofverrigtinge opneem nie.

Verskeie mense verbonde aan die Black First Land First (BLF)-organisasie het by die hof opgedaag om Duduzane te ondersteun. Hulle sê dit is onregverdig dat “ ‘n swart man vervolg word in ’n saak waar hy eers onskuldig bevind is”.

Daar was in ’n stadium ’n stoeiery tussen ’n TV-kameraman en ’n lid van die BLF-beweging buite die hof. 

Die BLF se Lindsay Maasdorp is glo deur 'n kameraman in die gesig geslaan. Foto: Isabel Venter

Lindsay Maasdorp van die BLF beweer die kameraman het hom met die vuis in die gesig geslaan terwyl hy besig was om te betoog. 

Dit was ook op die punt toe Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, by die hof opgedaag het.

Maasdorp het aangedui dat hulle stappe gaan doen teen die kameraman, nadat die polisie by die hof geweier het om ’n saak aanhangig te maak.

Maasdorp is Maandag buite die handelshof in Johannesburg afgeneem waar Duduzane op aanklagte van korrupsie verskyn het. Toe het hy die media gevloek.

WAARSKUWING: Die onderstaande video wat deur EWN op hul Facebookblad gelaai is, bevat kru taal.

Die aanklagte teen Duduzane spruit voort uit ’n motorongeluk op die M1 in Johannesburg in Februarie 2014 toe hy met sy Porsche agter in ’n minibustaxi vasgery het naby die Grayston-rylaanafrit.

Phumzile Dube, ’n passasier in die taxi, is op slag dood en drie ander insittendes is beseer.

’n Tweede vrou, Jeanette Mashaba, is ’n paar weke later dood. Daar is tydens ’n geregtelike doodsondersoek bevind dat haar dood nie verband gehou het met die ongeluk nie.

In Julie 2014 het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) geweier om Duduzane te vervolg weens onvoldoende bewyse. Die NVG het in 2015 weer besluit om hom nie te vervolg nie.

AfriForum het daarna ’n ultimatum aan die NVG gestel om Zuma te vervolg, so nie sou die instelling se adv. Gerrie Nel hom privaat vervolg. Shaun Abrahams, hoof van die NVG, het toe in April besluit om Duduzane wel te vervolg.

Die saak is tot Donderdag 23 Augustus uitgestel. Volgens Yusuf Baba, staatsaanklaer, sal Duduzane se regspan in dié tyd aansoek doen om toegang tot die inhoud van die dossier.

Duduzane is Maandag op borgtog van R100 000 vrygelaat nadat hy in die handelshof in Johannesburg op aanklagte van korrupsie verskyn het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.