Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: ‘Queer’-aktiviste moet op 8 Oktober uit

Die groep “queer”-aktiviste wat ’n luukse gastehuis in Kampsbaai twee weke lank “gekaap” het, moet die perseel teen 8 Oktober ontruim.

Indien hulle versuim om dit te doen, sal ’n kostebevel teen hulle gemaak word. Die balju en die polisie moet dan ingevolge die hofbevel die groep uit die gastehuis verwyder.

So het regter Nape Dolamo Vrydag in sy uitspraak in die hooggeregshof in Kaapstad gesê nadat die eienaar en bestuurder van die gastehuis aansoek om ’n uitsettingsbevel gedoen het.

Gabriela van Wyk, bestuurder van die gastehuis, en die eienaar (wat in Ierland woon) het ’n dringende aansoek by die hof ingedien om die groep, asook enige ander mense wat met hulle geassosieer word, te laat verwyder.

Die groep bestaan uit sewe kunstenaars en aktiviste van die Queer Radical Feminist Activist Collective en beset die huis onder die vaandel #WeSeeYou.

Hulle is Devaarne Muller, Xena Scullard, Kelly-Eve Koopman, Vatheka Halile, Wewe Ngidi, Sarah Summers en Lethabo Hanong.

Die groep het die huis van 18 September tot 21 September deur Airbnb bespreek. Hulle het vir dié dae betaal, maar toe geweier om die gastehuis te verlaat.

Hulle het Van Wyk op 22 September laat weet van hul voorneme om die huis te beset. Hulle het dit ook op sosiale media bekend gemaak.

Milton de la Harpe, regsverteenwoordiger van die eienaar van die Kampsbaai-gastehuis, staan op die agtergrond terwyl Sarah Summers, een van die aktiviste, Vrydag buite die hooggeregshof in Kaapstad met die media praat. Foto: Jaco Marais

Die groep sê hy kan nie saamleef met ’n stelsel wat so onregverdig is en wat die veiligheid en welstand van so baie mense minag nie.

Twee besprekings is al intussen gekanselleer en die eienaar moes alternatiewe akkommodasie vir die kliënte reël.

Volgens hofstukke sal die eienaar sowat R50 000 per maand verloor indien die besetters nie die huis verlaat nie.

Van Wyk het in die hofstukke aangevoer die groep voer ’n “politieke agenda” en doen dit om media-aandag te trek.

Milton de la Harpe, wat namens die applikante verskyn, sê die hof het gelas die groep moet die huis voor 12:00 op 8 Oktober ontruim.

Lede van die Queer Radical Feminist Activist Collective omhels mekaar nadat hulle deur die hof beveel is om die gastehuis in Kampsbaai wat hulle reeds twee weke lank onwettig beset, teen 8 Oktober te ontruim. Foto: Jaco Marais

“As hulle dit nie doen nie, het die hof gemagtig dat die balju saam met die polisie, na die huis kan gaan om hulle van die eiendom te verwyder,” sê De la Harpe.

Indien hulle nie ontruim nie, sal hulle verantwoordelik wees vir die applikante se hofonkoste, lui die bevel.

Summers het ná afloop van die hofsaak gesê die groep glo hulle het ’n regverdige verhoor gehad. Hulle het hulself verteenwoordig nadat pogings om regsverteenwoordiging te bekom, onsuksesvol was.

Sy sê die Kaapstad-metro kan eers teen 8 Oktober diegene wat nie verblyf het nie, help. Daar is glo drie lede wat nie ’n heenkome het nie.

Dolamo het dit nie as deel van die bevel gemaak nie, maar dit is in die hof genoem.

Summers het almal bedank vir hul ondersteuning en sê “dit is baie stresvol en baie mense besef nou dat hierdie nie ’n grap is nie”.

Sy sê hulle weet nog nie wat al die implikasies van die bevel is nie, maar dat hulle voel hulle het ’n regverdige verhoor gehad.

Intussen word klagtes van bedrog en betreding wat by die polisie aanhangig gemaak is, steeds ondersoek.

Meer oor:  Kampsbaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.