Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Staat sê Packham vermoor vrou en verbrand in kar

Rob Packham het sy vrou, Gill, met ’n onbekende voorwerp doodgeslaan en later van haar lyk ontslae geraak deur dit in die kattebak van haar eie motor te verbrand, voer die staat aan in die moordsaak teen Packham.

Rob Packham staar stip in die lens van die fotograaf se kamera op sy derde dag in die getuiebank in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Adv. Susan Galloway, staatsaanklaer, het Woensdag Packham se kruisondervraging in die hooggeregshof in Kaapstad afgehandel, en sy regspan het geen herondervraging of verdere getuies geroep nie.

Galloway het die staat se saak, gegrond op al die bewyse, aan Packham gestel.

Volgens Galloway het hy Gill tussen 21 Februarie (nadat die egpaar by die huis aangekom het van ’n beradingsessie) en 22 Februarie 2018 met ’n onbekende voorwerp teen die kaak geslaan. Dié hou sou haar bewegingloos gelaat het. Hy het haar ’n tweede keer agter die kop geslaan en dié hou het haar dood veroorsaak.

Galloway het gesê motief is nie ’n element van moord (wat bewys moet word nie) nie, maar Packham het homself in ’n ongemaklike posisie bevind weens sy jare lange buite-egtelike verhouding met Persoon X en sy vrou se ontsteltenis oor sy onthullings oor sy ontrouheid.

“Jy kon Gill ook in die voertuig aangeval het toe sy op pad was werk toe, soos dr. Louise Friedling, ’n forensiese antropoloog, getuig het.

“En omdat jy die moordwapen hanteer het, kon die bloedspatsels van jou hande gekom het en of van die moordwapen.”

Packham het toe sy vrou se lyk van die passasiersitplek na die kattebak van haar kar geskuif. Dit kan die bloed op die motorhuis se deur verduidelik, asook die bloed aan die binnekant van die regtervoordeur.

“Daarom het jy nie jou vrou as vermis aangemeld nie, al wil jy hê die hof moet glo jy het. En jy wou nie na haar soek nie, omdat jy die hele tyd geweet het waar sy is. Jy het ook geweet waar die kar is. Jy het dit in die omgewing van jou huis bestuur.”

Toe Packham besef iemand het hom omstreeks 14:00 in die voertuig gesien, het hy besluit om die kar by die Dieprivier-treinstasie te gaan los. Hy het die kar gesluit.

“Oral waar jy rondgery het, in jou kar of jou vrou se kar, was om van die bewyse ontslae te raak, die moordwapen, selfoon, handsak en die nommerplate van haar kar.”

Dit kom daarop neer mnr. Packham, ek gaan betoog jy het jou vrou vermoor en haar kar aan die brand gesteek.

Uiteindelik, nadat hy by sy suster aandete geëet het en hulle gepraat het oor wat hulle gaan doen oor Gill se verdwyning, het hy omstreeks 21:30 op pad terug na sy huis die voertuig by die treinstasie aan die brand gesteek.

Volgens Galloway het Packham gedink die brand sou alle bewyse in die kar vernietig, “en dat jou vrou net nog ’n statistiek van ’n kaping sou word”.

Dít verklaar ook waarom hy “te moeg en uitgeput” was om daaroor te praat toe die ondersoekbeampte hom later die aand gekontak het oor die verdwyning en die lyk wat in die voertuig gekry is en ook hoekom hy geen belangstelling getoon het vir die afspraak met die polisie die volgende oggend nie.

“Dit kom daarop neer mnr. Packham, ek gaan betoog jy het jou vrou vermoor en haar kar aan die brand gesteek.”

Packham, wat gevra is om op dié stelling kommentaar te lewer, het gesê: “Ek ontken ten sterkste dit wat die staatsaanklaer pas aan my gestel het.”

Regter Elize Steyn het die saak tot 24 April vir slotbetoë uitgestel.

Meer oor:  Rob Packham  |  Adv. Susan Galloway  |  Kaapstad  |  Brand  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.