Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Ouers se spanning toe Bylsma in hof verskyn

Xander Bylsma (19) wat van die dubbele moord op sy voormalige meisie en sy kleinniggie verdink word, het Vrydag met ’n netjiese broek, hemp en das in die landdroshof in Vryburg verskyn.

Hy het uitdrukkingloos in sy wit hemp en blou das geluister terwyl landdros Christelle Matthews die saak na 12 Oktober uitgestel het sodat die klagstaat gefinaliseer kan word.

Hy bly intussen in aanhouding by die Rooigrond-gevangenis naby Mahikeng.

Xander Bylsma kom Vrydagoggend by die landdroshof in Vryburg aan. Foto: Simon Sonnekus

Bylsma het ure nadat sy voormalige meisie, Sharnelle Hough (17), en kleinniggie, Marna Engelbrecht (16), se lyke einde Mei in Stella naby Vryburg in Noordwes gevind is, sekere erkentenisse teenoor die polisie gemaak. Die inhoud daarvan is nog nie bekend nie.

Mercia, Xander se ma, het kliphard “Worsman!” geroep toe hy ná sy verskyning Vrydag na die polisieselle teruggeneem is.

Mercia het voor haar seun se verskyning, en daarna in die binnehof by hof A gewag om haar seun te sien terwyl polisielede hom na en van die hof begelei het.

Monté Bylsma praat met Moolman Wessels, Xander Bylsma se regsverteenwoordiger, buite die hof.Foto: Simon Sonnekus

Sy het vroeër vandeesweek gesê sy gaan “deur ’n moeilike tyd en sien nie kans vir mediaonderhoude” nie.

Stefaans Engelbrecht, Marna se pa, het vroegoggend eerste by die hof opgedaag en in die voorste bank in die galery gaan sit.

Daar was Vrydag heelwat minder mense by die hof as met Xander se vorige verskyning vroeg in Augustus.

Bylsma in die beskuldigdebank.Foto: Simon Sonnekus

Ronnie en Anna Hough, Sharnelle se pa en stiefma, was ook by die hof.

Anna en ’n skoolvriendin van die vermoorde meisies, het T-hemde gedra met die boesemvriendinne se gesigte op die voorkant gedruk.

Ronnie Hough het gesê Sharnelle se ma, Sonja, kon nie by die hof wees nie omdat sy naby Koster werk en nie ’n geleentheid na Vryburg kon kry nie.

Bylsma het ’n netjiese hemp, das en broek aangehad. Foto: Simon Sonnekus

Monté Bylsma, Xander se pa, het in die hofgalery agter Marna en Sharnelle se familielede gesit. Hy het gespanne voor hom uitgekyk.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die ondersoek is nou afgehandel en die dossier is by die nasionale vervolgingsgesag vir die formulering van aanklagte.

Hul lyke is einde Mei op ’n Saterdagoggend in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis gevind. Hulle was albei in gr. 11 in dié skool waar Xander verlede jaar gematrikuleer het.

Bylsma is ná sy hofverskyning terug na die Rooigrond-gevangenis naby Mahikeng waar hy aangehou word. Foto: Simon Sonnekus

Hy en Sharnelle was sowat ’n jaar lank ’n paartjie voordat hy en Sharnelle omtrent ’n maand voor die moorde hul verhouding beëindig het, op aandrang van Sharnelle se pa.

Ronnie Hough wil nie nou al uitbrei oor die redes nie.

Die meisies het die Vrydagaand voor hul dood alleen in die koshuis geslaap omdat hulle vroeg die volgende oggend na ’n skolesportbyeenkoms in Koster sou gaan.

Hul moordenaar wou vermoedelik die indruk skep dat hulle hul eie lewe geneem het. Sharnelle se liggaam het aan ’n tou aan ’n trapreëling in die koshuis gehang. Marna is in die badkamer met die lus van ’n handsak om haar nek gevind.

Moolman Wessels, Xander se prokureur, het gesê hulle is self nog nie seker presies watter aanklagte teen Xander gestel sal word nie. Die klagte sal formeel aan hom gestel word wanneer hy weer op 12 Oktober in die hof verskyn. 

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Marna Engelbrecht  |  Sharnelle Hough  |  Stella  |  Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.