Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: ‘Stop die plaasmoorde’ klink op buite Hartswater-hof

So stil soos ’n begrafnisstoet met net die bakkies se enjins wat saggies dreun het boere en inwoners van die

Vaalharts-skema Donderdagoggend stadig deur Hartswater gery.

Die stilte is met tye deur polisiesirenes onderbreek.

Plaaslike inwoners het hulle by die boere aangesluit en voor die landdroshof betoog en geskree “all lives matter”.

'n Jong man betoog buite die hof in Hartswater teen plaasmoorde. Hy het op ’n muurtjie geklim en uitgeroep: “Stop hierdie plaasmoorde! Alle lewens maak saak!” Foto: Anena Burger

Dít is hoe mense van die omgewing protes aangeteken het teen die moord op die Brand-egpaar, Dan (83) en Breggie (73), en hul dogter Elzabie (54).

Die vyf verdagtes wat vir die moorde in hegtenis geneem is, het Donderdagoggend in die hof verskyn. Inwoners wou nie hê hulle moes op borgtog vrygelaat word nie.

Die voertuie het teen 20 km per uur om en om verby die hof en polisiekantoor gery.

Dit het soos spitstyd in Johannesburg in dié plattelandse dorp se strate gelyk.

’n Somber gevoel het in die dorp geheers soos mense in stilte die stoet aanskou het.

’n Grootskaalse soektog is Maandag begin nadat die bure en familievriende gaan ondersoek instel het oor hoekom die Brands nie hul fone beantwoord nie. Hul lyke is die volgende dag gevind, met onder meer meswonde in die kop.

Soekie Swartz het ook buite die hof in Hartswater teen borgtog vir die vyf verdagtes in die moorde op die Brand-gesin betoog. Sy kon haar trane nie keer nie en is deur vriende ondersteun. Foto: Anena Burger

Buite die hof het Soekie Swartz, ’n inwoner van die Vaalhartsskema, in trane uitgebars.

“Hierdie moorde moet stop! Hulle was oumense. My hart is só seer,” het sy gehuil.

Agter haar het ’n jong man met ’n plakkaat op ’n muurtjie geklim en dit uitbasuin: “Hierdie plaasmoorde moet stop! Alle lewens maak saak!”

Tsepho Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (42), Donald Seoleseng (20), Tshepaone Melato (19) en Realeboga Manyedi (19) het vlugtig in die hof op aanklagte van moord, ontvoering en motordiefstal verskyn.

Mpulwana het aangedui sy gaan haar eie regsverteenwoordiger aanstel, maar die vier mans wou om regshulp aansoek doen.

Mpulwana het deurentyd probeer om die media se kameralense te vermy deur af of weg te kyk. Die vier mans het stip voor hulle uitgestaar.

Familielede van die Brand-gesin het in die voorste hofbank reg agter die verdagtes gesit.

Slegs familielede van die slagoffers en die verdagtes is weens Covid-19-regulasies in die hofsaal toegelaat.

Boere en inwoners van Hartswater het Donderdagoggend in ’n konvooi deur die strate van die dorp en om die hof gery. Daar was honderde voertuie in die konvooi waarop baniere en selfs koerantberigte van plaasaanvalle aangebring was. Foto: Anena Burger

Godfrey Makaise het namens die staat opgetree.

Die saak is tot 13 Augustus vir verdere ondersoek en ’n aansoek om borgtog uitgestel.

’n Luide gejuig het opgeklink toe die familiewoordvoerder, Stephen Bennie, die betogende inwoners ingelig het dat die verdagtes tot hul volgende verskyning in aanhouding sal bly.

’n Pa en sy seun hou ’n banier agterop ’n bakkie vas wat vra dat borgtog nie toegestaan word nie. Foto: Anena Burger
Honderde voertuie het Donderdagoggend in ’n konvooi deur die strate van Hartswater gery om teen borgtog vir die vyf verdagtes in die moord op die Brand-gesin en plaasmoorde te betoog. Foto: Anena Burger
Familielede van die Brand-gesin het ná die hofverrigtinge buite die hof gesels. Foto: Anena Burger

Meer oor:  Hartswater-Aanvalle  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.