Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Sy kan nie met haar lewe aangaan omdat saak sloer

Sy sukkel om aan te gaan met haar lewe omdat die verhoor van haar vermeende skieter sloer.

“Elke dag het ek battles met myself in my kop. Net om dan in die hof te kom sit en te moet hoor wanneer die volgende hofdatum is,” het ’n emosionele Carine van Staden Woensdag gesê.

Van Staden was by die streekhof in Pretoria-Noord waar Jacob Marakalla, geskorste weermagkorporaal, op aanklag van poging tot moord op haar verskyn het.

Carine van Staden Woensdag by die streekhof in Pretoria-Noord nadat sy uitgevind het die hofsaak is tot September uitgestel. Links is Abdus Samad Adam, staatsgetuie, en regs is Carine se ma, Louise van Staden. Foto: Christiaan du Plessis

Hy staan ook tereg op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur, die versuim om op ’n ongelukstoneel stil te hou en die rig van ’n vuurwapen op Johan Harmse, Van Staden se kêrel.

Hoewel Van Staden en haar familie gehoop het dat die laaste getuie in die verhoor sy getuienis Woensdag sou afhandel, is die saak tot 5 September uitgestel.

“Mense sê ek moet aangaan met my lewe. Ekself wil die boek toemaak, maar ek kan nie. My lewe word om die hofsaak beplan,” sê Van Staden.

Die voorval het op 10 April 2017 by ’n verkeerslig in Montana, Pretoria, gebeur. Marakalla was toe nog ’n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se BBP-eenheid.

Tiaan Maritz, wat uit sy motor die gebeure gesien het, het Woensdag getuig hoe die bestuurder van ’n wit Audi-motor sonder ’n flikkerlig voor Van Staden en Harmse ingeswaai het. Die paartjie was op ’n motorfiets, wat Harmse bestuur het.

Die Audi het langs die motorfiets tot stilstand gekom en Harmse het glo wild beduie.

As ek nagmerries kry, sal hy (Harmse) my in die aande wakker maak. Pleks daarvan om vrae te vra, sal hy my net troos en sê dit gaan oukei wees. Ek hoop die saak is die moeite werd.

Volgens Maritz het die motor gedraai en teen die motorfiets vasgery. Harmse het probeer wegkom, maar by die volgende rooi lig, in Lavenderstraat, was die Audi weer langs die paartjie.

“Ek het die passasier (Van Staden) van die motorfiets sien afklim en na die Audi loop. Die bestuurdersdeur van die Audi het oopgegaan en ek kon ’n skoot hoor,” het Maritz getuig.

Nog ’n ooggetuie, Abdus Samad Adam, het getuig hoe die gewapende man toe by die Audi uitgeklim en die vuurwapen ook op Harmse gerig het.

“Ek het in my motor op die gewapende man geskreeu. Hy het na my gekyk, in die Audi geklim en weggery,” sê Adam. Hy het Van Staden na die naaste hospitaal geneem.

Uit Adam en Maritz se getuienis blyk dit dat daar nog drie ander mense in die Audi was.

Adam het getuig hoe twee mans by die rooi verkeerslig uit die motor geklim en weggehardloop het. Maritz sê ’n kort ent daarvandaan het iemand met ’n “groen koelboks” uit die motor geklim. Die bestuurder het in die Audi weggery.

Van Staden het longskade weens die koeël wat destyds haar bors deurboor het.

“Ek hoes, gooi op en kry maklik verkoue. Wanneer ek hoes, pyn my bors. Daar is dae dat ek nie sonder pynpille kan deurgaan nie,” sê Van Staden.

Volgens haar sou sy nie die hofsaak sonder Harmse oorleef het nie. Sy kry gedurig nagmerries.

“As ek nagmerries kry, sal hy (Harmse) my in die aande wakker maak. Pleks daarvan om vrae te vra, sal hy my net troos en sê dit gaan oukei wees. Ek hoop die saak is die moeite werd.”

Meer oor:  Jacob Marakalla  |  Carine Van Staden  |  Johan Harmse  |  Poging Tot Moord  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.