Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Tiener se broer dreig kinders by hof

Chaos het Maandagoggend voor die landdroshof in Edenburg in die Vrystaat uitgebreek toe familielede van ’n tienerseun, wat weens die aanranding op ’n onderwyser in die hof verskyn het, glo kinders buite die hof gedreig het.

Die jong man het die kinders, almal in die groen skooluniform van die Laerskool Edenhoogte, voor die hof gedreig, waarna van hulle weggehardloop het.

’n Handjievol kinders het Maandagoggend saam met van die skool se onderwysers, personeellede en ouers na die hof opgeruk waar die 15-jarige seun verskyn het.

Die seun het op aanklagte van poging tot moord, twee aanklagte van ontvoering, die besit van ’n gevaarlike wapen en opsetlike saakbeskadiging in die hof verskyn nadat hy Karin Coetzee (33), ’n Afrikaansonderwyseres van die Laerskool Edenhoogte, na bewering herhaaldelik met ’n jagmes gesteek het.

Volgens inwoners het die seun se broer glo die kinders gedreig en wou hy met hulle baklei. Toe die polisie, wat die gemeenskap se optog dopgehou het, hom wou aankeer, het hy die hofgebou in gevlug.

Leerlinge van die Laerskool Edenhoogte in Edenburg betoog Maandag voor die dorp se landdroshof waar ’n tienerseun verskyn het vir die beweerde aanranding van een van hul onderwyseresse. Foto: André Damons

Die polisiebeamptes het hom gaan haal en na die polisiekantoor geneem.

Die beskuldigde se pa het Coetzee en haar man ook na bewering gedreig deur vir hul tuinwerker te sê hulle “gaan terugkom en klaarmaak waarmee hulle begin het”.

Dewald Coetzee, Karin se man, sê hy het die nodige interdikte verkry.

“Dit is vir my skokkend. Die ouers praat nog die heeltyd goed wat hul kind gedoen het. Hulle sê dit is reg wat hy gedoen het. Dit is regtig skokkend dat ouers nie verantwoordelikheid neem vir hul kinders nie,” sê hy.

Volgens hom is sy vrou nog emosioneel en geskok. Sy herleef die voorval die heeltyd en kry berading, sê hy.

Leerlinge en onderwysers van die Laerskool Edenhoogte in Edenburg het Maandag saam met ander inwoners na die dorp se landdroshof opgeruk waar ’n tienerseun verskyn het vir die beweerde aanranding van ’n onderwyseres van die skool. Foto: André Damons

Hy sê hulle is dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning, gebede en besoeke.

“Dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe baie ondersteuning daar vir my vrou is. Die gemeenskap is hartseer en geskok. Die mense is kwaad,” sê Coetzee.

Azille Conradie, ook ’n onderwyseres by die skool en Karin se vriendin, sê die optog gee ’n mens hoop en wys dat almal teen geweld kan saamstaan.

“As ’n onderwyser is dit intimiderend om te weet dit (’n aanval) kan enige tyd met jou gebeur. Die leerlinge kom vra gereeld hoe dit met haar (Karin) gaan en vra wanneer sy terugkom. Hulle het vir haar kaartjies gemaak Hulle is baie liefdevol,” sê Conradie.

Volgens haar is almal by die skool nou bang ná die dreigement van die aanvaller se pa.

Die kinders het plakkate gedra met die woorde “Genoeg is genoeg”, “Stop die geweld”, “Hou op ons onderwysers mishandel” en “Geen borgtog”.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê die seun se verhoor is tot 24 November uitgestel omdat sy regspan hom vir waarneming wil stuur. Hy bly in aanhouding in ’n plek van veiligheid.

Van die leerlinge hardloop weg nadat die jong verdagte se broer hulle glo buite die hof gedreig het. Foto: André Damons
Meer oor:  Karin Coetzee  |  Vrystaat  |  Edenburg  |  Betoging  |  Ontvoering  |  Onderwys  |  Poging Tot Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.