Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: 'Polisie gee nooit op', daar is hy ná 7 jaar in hof

Dries Venter se gesig was Maandag vol rou emosie toe hy sy dogter, Andrea Venter (24), se vermeende moordenaar ná sewe “baie lang jare” weer in die hof sien.

“Dis hartseer. En dan loop hy hier in asof niks fout is nie . . . Gelukkig het die lang arm van die gereg hom gekry, nou moet hy kry wat hom toekom,” sê Venter.

Sy dogter se gewese kêrel, Gerhard Jansen van Vuuren (39), het in voetboeie en ’n effens te groot pak die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Johannesburg ingeneem.

Dit was dieselfde hofgebou waar hy op 20 Mei 2013 veronderstel was om te pleit op aanklagte van moord op Venter en aanranding op Thulani Ndlovu, ’n veiligheidswag by haar woonkompleks.

Gerhard Jansen van Vuuren
Die moordbeskuldigde Gerhard Jansen van Vuuren het Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg verskyn. Foto: Melinda Stuurman
Die eens voortvlugtende moordverdagte Gerhard Jansen van Vuuren (39) praat met adv. Sekgololo Lekgotoane in die hof. Foto: Melinda Stuurman
Gerhard Jansen van Vuuren ná sewe jaar weer in die beskuldigdebank. Foto: Melinda Stuurman

Jansen van Vuuren het vier dae voordat die verhoor sou begin, na Brasilië gevlug.

’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik en die moordverdagte is ook op Interpol se rooilys van mees gesoekte verdagtes geplaas.

Die volgende jaar het die Suid-Afrikaanse polisie se ondersoekgerigte eenheid vir Jansen van Vuuren in Brasilië opgespoor. Die land se federale polisie het hom in hegtenis geneem vir die besit van vervalste identiteitsdokumente en omdat hy ’n polisielid probeer omkoop het.

Hoewel Suid-Afrika ’n uitleweringsaansoek vir hom gebring het, is hy later in 2016 “verkeerdelik” vrygelaat en het hy weer verdwyn.

Verskeie Suid-Afrikaanse polisie-eenhede het egter weer sy spoor gevind en op 18 Junie vanjaar is Jansen van Vuuren in Rio de Janeiro aangekeer. Vrydag is hy geboei, met net die klere aan sy lyf en ’n sak met ’n Bybel en twee boeke, na Johannesburg deur lede van Interpol teruggebring.

Sy ma, Thea Pretorius, het kort daarna gesê sy sou haar kind oor die naweek kon besoek en klere vir hom neem. Dit het vermoedelik die pak klere ingesluit waarin hy Maandag in die hof verskyn het.

Adv. Paul Schutte, aanklaer, het in die hof gesê dat die saak op 20 Mei 2013 in die hooggeregshof in Johannesburg moes voorkom.

Dries Venter
Dries Venter, die vermoorde Andrea Venter se pa. Foto: Melinda Stuurman

“Die beskuldigde was nie in die hof nie, ’n lasbrief is gemagtig en hy is nou weer in hegtenis geneem. Hierdie is sy eerste verskyning nadat hy weer aangekeer is.”

Adv. Sekgololo Lekgotoane van Regshulp SA het geantwoord dat sy reeds met die beskuldigde gepraat het en dat hy van hul gratis diens gebruik sal maak.

Die saak tot November uitgestel om ’n verhoordatum te bepaal.

Die akte van beskuldiging teen Jansen van Vuuren bly dieselfde as destyds: dat hy, toe hy 30 jaar oud was, vir Venter by haar woonkompleks in Lonehill, Johannesburg, verskeie kere met ’n mes gesteek het en vir Ndlovu aangerand het deur hom met fisieke geweld te dreig.

Dit lui verder: Die oorledene en beskuldigde was in ’n liefdesverhouding. Daar was ’n geskiedenis van geweld deur die beskuldigde wat daartoe gelei het dat Venter ’n beskermingsbevel teen hom bekom het.

Gerhard Jansen van Vuuren Maandag in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman

“Op 2 Mei 2011 was die oorledene en beskuldigde saam by haar woning. Die beskuldigde het die oorledene in die woning met ’n mes aangeval. As gevolg hiervan het sy uit die woning gehardloop. Die beskuldigde het haar gejaag.

“Buite het die beskuldigde die oorledene gegryp en verskeie kere met die mes gesteek. Die beskuldigde het die oorledene se nek gesny en toe gepoog om sy eie keel te sny.

“Die oorledene is op die toneel dood weens veelvoudige steekwonde.”

Pa kry swaar:

Venter se pa het nadat die saak Maandag uitgestel is, met effens geboë skouers uit die hof gestap, twee vriende langs hom.

Steve Hudson en Pine Pienaar het saam met Dries van Rustenburg na Johannesburg gery vir ondersteuning.

“Ek ken vir Andrea vandat sy só groot was,” het Pienaar met sy hand so kniehoogte beduie.

Hudson ken ook die Venters al vir langer as 30 jaar.

Dankie vir al julle werk om hom hier te kry. Niks kan my meer blydskap gee nie.

“Dries se eerste vrou, Andrea se ma, is dood aan haar hart – sy het haar doodgetreur oor Andrea. Weet jy, Andrea was die eerste proefbuisbaba in Rustenburg?”

Hulle sê Dries kry swaar.

Dries sluk hard en antwoord: “Maar ek sal sterk wees vir die twee (Andrea en haar ma) wat nie hier kan wees nie. Ek is net bly hy is nou hier”.

Hy moes weer sluk voordat hy kon sê hoe dankbaar hy is dat die polisie, veral sekere individue, nooit opgegee het met hul soektog na Jansen van Vuuren nie.

“Dankie vir al julle werk om hom hier te kry. Niks kan my meer blydskap gee nie.”

• Jansen van Vuuren bly in aanhouding. Hy het destyds ná sy inhegtenisneming verskeie mislukte borgtogaansoeke gebring, totdat hy hom tot die hooggeregshof gewend het. Hier is hy later borgtog van R15 000 toegestaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.