Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Xander wil graag Kersfees tuis wees

Xander Bylsma, Stella se dubbelemoordverdagte, gaan op 21 Desember ’n aansoek om borgtog in die hof bring in die hoop om Kersfees tuis by sy familie te wees.

Bylsma (19) het Donderdag vir die eerste keer sedert sy inhegtenisneming in Mei vanjaar in die hooggeregshof in Mmabatho verskyn. Hy het aangedui dat hy nou om borgtog aansoek wil doen.

’n Regskenner meen egter die kans is skraal dat Bylsma borgtog sal kry.

Adv. N. Rai, Bylsma se nuwe verteenwoordiger, het Donderdag gevra dat ’n borgaansoek wat vir Vrydag geskeduleer was, tot 21 Desember uitgestel word sodat hulle tyd het om op die staat se opponerende verklarings te reageer. Dis nie bekend hoekom Bylsma ’n nuwe advokaat het nie.

Hy het tevore in die landdroshof in Vryburg verskyn weens die moorde op Sharnelle Hough (17), sy eksmeisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie. Die twee boesemvriendinne se lyke is einde Mei in die koshuis van die Hoërskool Stella gevind. Hulle is vermoedelik verwurg.

Die skraal Bylsma het Donderdag in ’n blou T-hemp in die hof verskyn. Mercia en Monté Bylsma, sy ouers, was albei daar. Mercia was emosioneel en het gesê dit sal lekker wees as haar enigste kind Kersfees tuis kan wees. Monté was stil en het heel agter in die hof gesit. Nie een van die vermoorde meisies se families was by die hof nie.

Hoewel Bylsma kort ná die moorde in Mei vanjaar sekere bekentenisse teenoor die polisie gemaak het, het hy vroeg in November skuld ontken in die landdroshof in Vryburg.

Xander Bylsma se regspan praat Donderdag in die hooggeregshof in Mmabatho met hom. Sy prokureur, Moolman Wessels, kyk vir die kamera, terwyl adv. N. Rai met sy sykant na die kamera staan. Foto: Simon Sonnekus
Xander Bylsma Donderdag in die hooggeregshof in Mmabatho.Foto: Simon Sonnekus
Xander Bylsma Donderdag in die hooggeregshof in Mmabatho.Foto: Simon Sonnekus
Xander Bylsma Donderdag in die hooggeregshof in Mmabatho.Foto: Simon Sonnekus
Xander Bylsma Donderdag in die Noordwes-hooggeregshof in Mmabatho. Sy pa, Monté, sit heel agter in die hof. Foto: Simon Sonnekus

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria, het kort daarna gesê ’n bekentenis is nie versoenbaar met ontkenning van skuld nie. Dit beteken daar is ’n moontlikheid dat die bekentenis tydens die verhoor betwis kan word.

Curlewis sê indien Bylsma se regspan nog nie die volledige saakdossier onder oë gehad het nie, kan hy steeds sy pleit in skuldig verander wanneer die verhoor begin.

Sy regspan het vroeër gevra dat hy vir sielkundige waarneming in die Sterkfontein- psigiatriese hospitaal in Gauteng verwys word om te bepaal of hy toerekenbaar was toe die misdrywe waarvan hy aangekla word, gepleeg is. Daar was tot dusver nog nie vir hom ’n bed beskikbaar nie. Bylsma word intussen in die Rooigrond-gevangenis naby Mahikeng aangehou.

Curlewis meen dit is onwaarskynlik dat Bylsma se borgaansoek sal slaag.

“Die doel van ’n verwysing vir sielkundige waarneming is juis om te bepaal of iemand aan ’n geestesiekte of -gebrek ly.”

Hy sê na sy mening sal dit voortydig wees om borgtog toe te staan terwyl dit nog onseker is of die verdagte ’n gevaar vir die samelewing is en nie elke oomblik van die dag by sy positiewe is nie.

“Hy word buitendien van ’n skedule 6-misdryf aangekla, wat beteken die bewyslas is op hom om die hof te oortuig dat daar spesiale omstandighede is wat borgtog regverdig.”

Xander Bylsma se regspan praat Donderdag in die hooggeregshof in Mmabatho met hom. Sy prokureur, Moolman Wessels, kyk vir die kamera, terwyl adv. N. Rai met sy sykant na die kamera staan.Foto: Simon Sonnekus

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Stella  |  Dubbele Moordsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.