Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Laaste moordenaar van Botha sit lank

Die laaste van die TV-aanbieder Johann Botha se moordenaars wat gevang is, Khulu Phungula, is die afgelope Dinsdag skuldig bevind en Woensdag tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis.

Rudolph Botha, Werner (Swazi) Perchtold en Johann Botha.

Phungula (27) is in die hooggeregshof in Johannesburg deur regter Mohamed Ismail tot twee keer lewenslank vir die moorde, 15 jaar vir roof, drie jaar vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en een jaar vir sy ontsnapping gevonnis.

Sy medepligtiges Masethembe Mbatha (20) en Maqhawe Moyo (31) dien albei reeds lang vonnisse uit vir die Junie 2017-moord op Botha en sy vriend Werner (Swazi) Perchtold, in wie se Zebra Inn-kroeg hulle geskiet is. Ntobeko Hlatshwa­yo (33) is intussen dood.

’n Vyfde verdagte, wat net as “DJ” geïdentifiseer is, maar nooit aangekeer is nie, het glo na Zimbabwe gevlug.

Rudolph Botha, Johann se ouer broer, is stilweg tevrede.

‘Nie een het gesê hulle is  jammer nie.’

“Hierdie mense se vonnisse gaan nooit my broer terugbring nie, maar die staat het nou beslis ander mense sal vir ’n lang tyd teen hulle beskerm word,” sê Botha.

Hy sê Phungula se inhegtenisneming, ná sy 2018-ontsnapping uit Johannesburg se berugte Sun City-gevangenis was nie só ’n groot verrassing nie.

“Van die 16 gevangenes wat daardie dag ontsnap het, was Phungula die16de een wat óf doodgeskiet is óf weer aangekeer is. As ons polisie eers jou naam en jou ID-nommer het, gaan hulle jou vang, dit vat maar net ’n ruk.”

Hlatshwayo, wat saam met Phungula uit die tronk ontsnap het, is deur die polisie se honde-eenheid in KwaZulu-Natal doodgeskiet.

Regter Ismail het die afgelope week beslis Phungula het geen kans op ’n suksesvolle appèl nie. “Die regter het self ’n klein bietjie emosioneel geraak toe hy gesê het hulle het geen kans dat ’n ander hof ’n ander bevinding gaan maak nie,” sê Botha.

’n Destydse kelnerin van die Swazi Inn, Shareeva Vannel, was uiteindelik een van die staat se beste getuies.

“Sy het haar eerste verklaring aan die polisie op 9 Junie 2017 gemaak. Toe sy hierdie week getuig het, was daar geen teenstrydighede nie. Die aanklaer het haar beskryf as een van die beste identifiserende getuies met wie sy nog in haar loopbaan saamgewerk het.”

Botha, wat in die twee moordverhore net een dag nié kon bywoon nie, is ook dankbaar vir die getuienis van Stuart Adams, ’n tegnikus van Mater Technologies. “Die kringtelevisiestelsel van die kroeg het ’n sleutelrol in die identifisering van die moordenaars gespeel en Stuart het dit baie verstaanbaar verduidelik en uiteengesit. Saam met Shareeva se getuienis was dit moeilikheid vir die verdediging.”

Hy raak ’n oomblik stil.

“Nie een van hierdie mense het tot nou toe gesê hulle is jammer oor wat hulle gedoen het nie. Ek hoop dit word eendag in ag geneem wanneer hulle vir parool aansoek doen. Nou gaan die lewe aan. Ek en my broer sal noot weer ons gebruiklike Sondag-ontbyt kan geniet nie, maar ons weet darem nou die skuldiges boet vir sy dood.”

Meer oor:  Johann Botha  |  Khulu Phungula  |  Rudolph Botha  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.