Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Laaste van 16 wat SAID kul 15 jaar tronk toe

Die laaste van ’n groep van 16 witboordjiemisdadigers wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uit sowat R11 miljoen bedrieg het, is Woensdagoggend effektief 15 jaar tronkstraf opgelê.

Regter Mahomed Ismail het in die hooggeregshof in Pretoria gesê die grootste ironie van alles is dat belastingbetalersgeld gebruik is om Andries Seoketso (31), die beskuldigde, in sy verhoor te verteenwoordig.

Foto ter illustrasie

Die ander lede van die sindikaat is reeds vroeër gevonnis, maar omdat Seoketso op 19 Desember 2013 nie by die hof opgedaag het nie en eers in April vanjaar deur die polisie vasgetrek is, het sy vonnisoplegging nou eers aangebreek.

Die 16 het “gewone” mense van Mamelodi in Pretoria en Soshanguve, wat werk gesoek het, se identiteitsdokumente gebruik om vals inkomstebelastingeise by die ontvanger van inkomste in te dien, sê Ismail. Dit het meegebring dat die SAID miljoene rande se vals eise uitbetaal het.

Die misdade is van 1998 tot 2005 – sowat sewe jaar lank – gepleeg. Die verlies wat Seoketso spesifiek vir die SAID meegebring het, was R1,5 miljoen, maar die potensiële verlies van sy wandade is R4,5 miljoen, sê Ismail.

Van die lede van die sindikaat het vir die SAID gewerk.

Sydney Moyo, die eerste beskuldigde, het as ’n boodskapper en kleinkasadministrateur in die Pay As You Earn-departement van die SAID gewerk. Hy het toegang tot die IRP5-boeke en die SAID se stelsels en prosedures gehad.

Moyo het sy vrou, Nomsombuluko Moyo (beskuldigde 11), wat ook by die SAID gewerk het, en die ander beskuldigdes se hulp vir die onwettige skema verkry.

Werklose mense van Mamelodi en Soshanguve, aan wie vals beloftes van werkgeleenthede gemaak is, se ID-boeke is bekom. Afskrifte hiervan is gemaak om vals belastingopgawes by die SAID in te dien. IRP5-sertifikate is in die proses vervals.

Ismail het Woensdagoggend gesê die groep se enigste doel was om die SAID te bedrieg weens hul gierigheid. “Dit was ’n slinkse en goedbeplande misdaad.”

Hy sê Seoketso en een van die ander beskuldigdes, Jacob Kunene (wat 20 jaar tronkstraf gekry het), het die bedrogspul “tot ’n nuwe vlak geneem”.

Hulle het die tjeks van die SAID by die posbusse by die poskantoor gaan afhaal.

Seoketso het ’n vorige veroordeling vir diefstal. Hy is in 2005 tot drie jaar tronkstraf daarvoor gevonnis.

Ismail sê die verswarende faktore is dat Seoketso baie min, indien enige, berou getoon het. Hy het tot vandag toe nie ’n sent aan die SAID terugbetaal nie.

Boonop het Seoketso in Desember 2013 nie by die hof opgedaag nie. Hy was by die huis toe hy twee en ’n half jaar later in hegtenis geneem is.

Sy regsverteenwoordiger het namens Seoketso in die hof aangevoer hy was in Desember 2013 siek en kon daarom nie hof toe kom nie, maar die hof het bevind geen siekbrief of hospitaalrekord is daarvoor ingedien nie.

Vir die feit dat hy nie destyds by die hof opgedaag het nie, het Ismail hom gevonnis tot drie maande tronkstraf. Dit word gelyklopend met die 15 jaar tronkstraf uitgedien.

Nog ’n beskuldigde wat destyds ook nie by die hof opgedaag het nie, is Sello Mothongwane. Mothongwane is ook intussen weer gevang en in Desember 2015 tot agt jaar tronkstraf gevonnis.

Die ander 14 is reeds in Junie 2014 gevonnis.

Hul vonnisse is:

Sydney Moyo: 15 jaar

Lucky Mthembu: 17 jaar

Jacob Kunene: 20 jaar

Moses Mnguni: 17 jaar

Maxwell Mkhonza: 7 jaar

Raymond Mogale: 9 jaar

Reuben Choma: opgeskorte tronkstraf (hy het die geld wat hy onwettig uit die SAID gemaak het, terugbetaal)

Paulus Jely: 9 jaar

Jordaan Khumalo: 7 jaar

Nomsombuluko Moyo: 6 jaar

Peter Mnisi: 7 jaar

Albert Mogale: 7 jaar

Richard Bopape: 2 jaar

Dumisane Nkonyane: 6 jaar

Ismail het destyds gelas dié wat direkte tronkstraf gekry het, moet twee derdes van hul tronkstraf uitdien voordat hulle vir parool in aanmerking kan kom.

Meer oor:  Hooggeregshof  |  Vonnis  |  Pretoria  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.