Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Landbank-saak: Okosa-voorsitter kry 20 j. vir bedrog

Rubben Mohlaloga, ’n voormalige parlementslid en voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou en steeds voorsitter van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa), is 20 jaar tronkstraf opgelê.

Mohlaloga is Donderdagoggend saam met twee ander in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria gevonnis, het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) bevestig.

Die ander twee skuldiges is Philemon Radichaba Mohlahlane (62), voormalige uitvoerende hoof van Landbank, en Dinga Rammy Nkhwashu (40) van Masepula Dinga-prokureurs. Mohlahlane en Nkhwashu is onderskeidelik sewe en 24 jaar tronkstraf opgelê.

Die beskuldigdes is almal aan bedrog en geldwassery ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad skuldig bevind.

Al drie se aansoek om verlof tot appèl is goedgekeur, het Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, gesê.

Hulle is in Januarie 2018 skuldig bevind daaraan dat hulle die Landbank uit R6 miljoen bedrieg het.

Die vonnisverrigtinge het reeds in April verlede jaar begin.

Landbouweekblad het vroeër berig dat die vier se vonnisoplegging verskeie kere deur die loop van die jaar uitgestel was.

Rubben Mohlaloga . . . was “doodgerus”, maar is nou moontlik sy pos kwyt.

Rubben Mohlaloga . . . was “doodgerus”, maar is nou vermoedelik sy pos kwyt.

Soos vroeër berig, het die beskuldigdes in Januarie 2008 in Polokwane saamgesweer en met die hulp van die “invloedryke” Mohlahlane R6 miljoen in ’n trustrekening van Masepula Dinga-prokureurs inbetaal.

Die geld is oorgeplaas uit ’n fonds wat vir swart landboubemagtiging, algemeen bekend as Agri-BEE, bestem was.

Dit is gedoen sonder om die voorgeskrewe prosesse te volg. Mohlahlane het hierdie prosedures ondermyn en Agri-BEE se fondsbestuur opdrag gegee om die oordrag sonder die ondersteunende dokumente te magtig.

Eers ’n maand nadat die geld oorbetaal is, het die fondsbestuurder, wat ’n staatsgetuie in die verhoor was, ’n aansoek vir die bewilliging ontvang.

Volgens dié aansoek sou die geld gebruik word om grond, lewendehawe en verwerkingsaanlegte te koop.

Nadat die R6 miljoen in die trustrekening by dié prokureursfirma inbetaal is, is die geld tussen die beskuldigdes verdeel en ’n plaas van R2 miljoen, ’n BMW X5- asook ’n BMW 118i-motor is vir die parlementslid Mohlaloga gekoop.

Daarbenewens is R2,2 miljoen in die sakerekening van Masepula Dinga-prokureurs tot die persoonlike voordeel van Nkhwashu inbetaal.

“Strydig met wat op die aansoek vir die geld aangedui is, is die geld nooit aangewend tot voordeel van plaaswerkers of opkomende boere nie, maar tot die beskuldigdes se persoonlike voordeel gebruik,” het die Valke ná hul skuldigbevinding in ’n verklaring gesê.

Die Valke se eenheid teen ernstige korrupsieverwante misdade het die saak ondersoek nadat ’n klag in 2002 by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria aanhangig gemaak is.

’n Parlementêre proses is vroeg in 2018 begin om ondersoek in te stel na Mohlaloga se geskiktheid om sy amp te beklee terwyl die hofsaak voortduur.

’n Portefeuljekomitee het in Mei 2018 aanbeveel dat hy geskors word, terwyl die saak afgehandel word.

Luidens Fin24 is Mohlaloga ten spyte van die hofsaak teen hom in 2013 tot Okosa se bestuursraad verkies. Hy dien sedert 2016 as waarnemende voorsitter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.