Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Landdros glo uit vrees vir skuldigbevinding vermoor

“Blykbaar” het ’n voormalige tronkbewaarder gedink dat landdros Victor Mabunda hom skuldig gaan bevind op ’n aanklag van besit van dagga.

Toe “bekom” Thomo Michael Ngoato (42) na bewering “die dienste” van ’n voormalige gevangene wat iemand moes vind wat bereid is om die landdros te vermoor.

Landdros Victor Mabunda.

Só lui die akte van beskuldiging wat Maandag in die streekhof in Pretoria op Ngoato, Paulos Fourie (43) en Thato Maringa (43) beteken is.

Hiervolgens sal die drie beskuldigdes volgende jaar op 25 Februarie in die hooggeregshof in Pretoria verhoor word op ’n aanklag van moord; alternatiewelik sameswering om moord te pleeg.

Die akte voer aan dat Ngoato en Fourie destyds saam by die Baviaanspoort-gevangenis buite Pretoria as bewaarders gewerk het. Hulle het vir Maringa ontmoet terwyl hy ’n gevangene daar was.

In Januarie 2017 is Ngoato glo by die werk met dagga in sy besit betrap. Hy is geskors en in die Cullinan-landdroshof verhoor op ’n aanklag van die besit van dagga. Mabunda was die landdros in daardie saak.

Luidens die akte het Ngoato begin dink dat Mabunda hom skuldig gaan bevind. Hy het daarom sy vriend en oudkollega, Fourie, genader, wat saam met hom die “dienste” van Maringa, wat intussen op parool vrygelaat is, bekom het.

“Beskuldigde 3 (Maringa) het die dienste bekom van ander individue wat nog opgespoor moet word. Die beskuldigdes het op 10 Januarie 2018 almal die oorledene vanaf die hof in Cullinan na sy huis in Bronkhorstspruit gevolg.

“Toe die oorledene in die oprit van sy huis stop, is hy verskeie kere geskiet terwyl hy in sy voertuig was. Hy is op die toneel dood weens koeëlwonde aan die bors,” lui die akte.

Die drie beskuldigdes het Maandag nadat die akte op hulle beteken is, gevra dat hul mediese verslae deur die departement van korrektiewe dienste aan hulle beskikbaar gestel word.

Toe die oorledene in die oprit van sy huis stop, is hy verskeie kere geskiet terwyl hy in sy voertuig was.

Hulle wil dit tydens die verhoor in die hooggeregshof as deel van hul verdediging gebruik – vermoedelik omdat die drie destyds kort ná hul inhegtenisnemings aangevoer het dat hulle deur die polisie aangerand en gedwing is om bekentenisse af te lê.

Landdros Adriaan Bekker het die saak na die hooggeregshof oorgeplaas en beveel dat die beskuldigdes se mediese verslae aan hulle verskaf word voordat die verhoor begin.

Ngoato en Fourie is vroeër borgtog geweier. Maringa het nie aansoek om borgtog gedoen nie.

  • Mabunda (49) het glo op 10 Januarie 2018 vir kollegas by die Cullinan-landdroshof vertel dat iemand hom probeer omkoop het. Hy was nie daarvoor te vinde nie. Hy is dieselfde middag net ná 16:00 vermoor.

Die polisie het vroeër gesê Mabunda is vier keer geskiet.

Ngoato se dwelmsaak sou op 11 Januarie 2018 voortgaan.

Meer oor:  Pretoria  |  Skuldigbevinding  |  Landdros
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.