Suid-Afrikaners behoort later vandag duidelikheid te kry oor die wetlike gebruik van dagga.
Die konstitusionele hof gaan uitspraak lewer en die finale se hê, nadat ’n volbank regters in Maart verlede jaar in die hooggeregshof in Kaapstad bevind het dat die kriminalisering van daggagebruik, -besit en -kweking in die privaatheid van die huis ongrondwetlik is.
Regters Dennis Davis, Vincent Saldanha en Nolwazi Boqwana het bevind dat sekere artikels van die Wet op Dwelms en Dwelmhandel en die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe deur die parlement gewysig moet word.
Die saak spruit uit drie eisers wat die hof in Kaapstad versoek het om dagga wettig te verklaar. Die eisers, onder wie Gareth Prince en Jeremy Acton (voorsitter van die Daggaparty), het in 2016 die aansoek by die hof ingedien.
Die respondente in die saak is die ministers van justisie, maatskaplike ontwikkeling, gesondheid, handel en nywerheid, internasionale betrekkinge en samewerking, en die polisie asook die direkteur van openbare vervolging.
Ná die hooggeregshofuitspraak het die respondente die konstitusionele hof genader om die uitspraak tersyde te stel.
Volgens die respondente het die eisers nie ’n grondslag vir privaatheid bewys nie en ook nie dat daar inbraak gemaak word op enige (mense)regte nie.
Die staat het ook bewyse voorgelê oor die nadelige en gevaarlike uitwerking van dagga.
Intussen het drie mense in hul private hoedanigheid aansoek gedoen om tussenbeide te tree en ook as partye in die aansoek toegelaat te word.
Luidens die hofstukke gebruik dié drie partye, sowel as die eisers, almal dagga vir kulturele en gesondheidskwessies. Die drie partye word almal strafregterlik vervolg oor die besit en gebruik van dagga. Met hul toetrede tot die saak is hul strafsake eers tersyde gestel hangende die uitspraak van die konstitusionele hof.
Doctors For Life is as vriend van die hof (amicus curiae) toegelaat. Die organisasie meen die konstitusionele hof moet die hooggeregshof se bevinding tersyde stel en sê ook dié hof moes nooit die aansoek aangehoor het nie.
Op 1 November 2017 het koning Adam Kok V van Griekwa-volk, Petrus Vaalbooi, San-leier, en die /Auni San-mense ook aansoek gedoen om as partye toegelaat te word.