Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Lasbrief uitgereik vir Bushiri-egpaar

Die Valke het Maandagmiddag bevestig ’n lasbrief is in die landdroshof in Pretoria vir die voortvlugtige selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary, uitgereik.

Die egpaar, wat van diefstal, bedrog en geldwassery van R102 miljoen aangekla word, het die naweek vermoedelik na Malawi gevlug. Die beweerde diefstal, bedrog en geldwassery hou verband met ’n beleggingskema.

Die egpaar was op borgtog van R200 000 elk toe hulle op die vlug geslaan het.

Hulle het Vrydagaand versuim om hulle kragtens hul borgvoorwaardes by die polisie aan te meld. Omdat hulle nagelaat het om dit te doen, is hul borggeld verbeurd verklaar, het Phumla Williams, woordvoerder van die regering, bevestig.

Die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri.

Die egpaar is veronderstel om Donderdag weer in die hof te verskyn. As hulle dit nie doen nie, kan daar ook op ander eiendom van hulle beslag gelê word.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het aan Netwerk 24 gesê daar sal ’n volledige ondersoek wees na hoe hulle daarin geslaag het om die land onwettig te verlaat.

Intussen het Bongani Bongo, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee, dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, genooi om te kom verduidelik hoe dit moontlik is dat hulle die land verlaat het.

Die DA sê in ’n verklaring hy verwelkom dit dat Motsoaledi voor die komitee moet verskyn.

Die departement van binnelandse sake se personeel beman grensposte.

Angel Khanyile, DA-woordvoerder oor binnelandse sake, het in ’n verklaring ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om met Malawi se pres. Lazarus Chakwera te praat om die egpaar aan Suid-Afrika uitgelewer te kry.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het op sy beurt in ’n verklaring bevestig Bushiri het in 2018 ’n korrupsiesaak teen polisielede aanhangig gemaak.

Ndileka Cola, woordvoerder van Opod, sê sy prokureur het namens hom die klag teen die polisielede ingedien.

Bushiri beweer dat die polisielede wat verskeie bewerings van verkragting teen hom ondersoek, probeer het om hom af te pers sodat die aanklagte teen hom kan “verdwyn”.

Cola sê Opod het vereis dat Bushiri vir hulle inligting oor hierdie bewerings gee, maar Bushiri kon weens sy “besige skedule” nie die kritieke inligting verskaf nie.

Die regering het Sondag in ’n verklaring gesê Bushiri en Mary was nie op Chakwera se vlug nadat hy in Pretoria met Ramaphosa vergader het nie.

Die egpaar het Saterdagoggend in ’n Facebook-inskrywing bekend gemaak dat hulle terug is in hul geboorteland,

Malawi. Bushiri het ook in dié inskrywing gesê hul lewe word bedreig en hulle sal net op sekere voorwaardes na Suid-Afrika terugkeer.

Hy het in die Facebook-inskrywing aangevoer dat daar ongerymdhede oor die ondersoekbeamptes is en sê hy en Mary sal net terugkom indien die ondersoekbeamptes ondersoek en van hul saak verwyder word. Hy het ook aangedring dat die regering sy veiligheid verseker en nie sy borgtogvoorwaardes terugtrek indien hy en Mary terugkeer nie.

Meer oor:  Shepherd Bushiri  |  Pretoria  |  Malawi  |  Bedrog  |  Geldwassery  |  Diefstal  |  Lasbrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.