Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Lasbrief vir Zuma ‘wys regstelsel werk’
Oudpres. Jacob ZumaFoto: GCIS

Die lasbrief wat uitgereik is vir die inhegtenisneming van oudpres. Jacob Zuma is ’n belangrike aanduiding vir alle Suid-Afrikaners dat die land se regstelsel steeds billik en regverdig is.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het Dinsdag so gereageer toe sy party, net soos die DA, die lasbrief wat regter Dhaya Pillay Dinsdag op versoek van die staat in die hooggeregshof in Pietermaritzburg teen Zuma uitgereik het, verwelkom het.

Die lasbrief is uitgereik omdat Zuma “weens mediese redes” nie vir sy korrupsiesaak by die hof opgedaag het nie. Sy regsverteenwoordiger het Dinsdag aan die hof gesê Zuma is in die buiteland vir behandeling.

Dié saak is tot 6 Mei uitgestel en die lasbrief sal eers uitgeoefen word as Zuma weer op dié dag nie by die hof opdaag nie.

News24 berig Dan Mantsha, Zuma se prokureur, het ná die hofverrigtinge buite die hof aan joernaliste gesê dit is “onregverdig” dat ’n lasbrief vir Zuma se inhegtenisneming uitgereik is.

“Hy word vervolg en geviktimiseer. Dit gaan nie oor die regspleging of om hom te beveilig om hof toe te kom nie. Dit is viktimisering, dit is vervolging.”

Mantsha het gesê Zuma se breër regspan sal vergader en die regter se besluit deeglik bespreek. Hulle sal in opdrag van Zuma op hul volgende stappe besluit.

Hy word vervolg en geviktimiseer. Dit gaan nie oor die regspleging of om hom te beveilig om hof toe te kom nie. Dit is viktimisering, dit is vervolging.

Groenewald het die lasbrief as bemoedigend beskryf. Hy sê “al wat nog werklik oorbly vir die mense van Suid-Afrika, is ’n regstelsel wat billik en regverdig toegepas word en alle Suid-Afrikaners op gelyke wyse voor die gereg behandel”.

Volgens hom kan Zuma se siekte nie geheim gehou word nie omdat hy ’n openbare figuur is wat glo toegelaat het dat belastingbetalers se geld gesteel word.

Adv. Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder oor justisie en korrektiewe dienste, sê die DA is bly dat die hof sy voet neergesit en aan Zuma gewys het dat hy nie langer kan aanhou om die hof se tyd en openbare hulpbronne te vermors omdat hy te bang is om aanspreeklik gehou te word nie.

“Ons vertrou dat hierdie lasbrief ’n sterk boodskap aan mnr. Zuma sal uitstuur dat sy truuks om aanspreeklikheid en geregtigheid te ontduik, nie geduld sal word nie,” sê Breytenbach.

Intussen sê dr. Llewellyn Curlewis, strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria, dit is nie vreemd dat ’n lasbrief uitgereik word vir iemand wat nie vir ’n hofverskyning in ’n strafverhoor opdaag nie.

Volgens Curlewis het Zuma egter nou tot 6 Mei om hof toe te gaan en die regter te oortuig van sy redes waarom hy nie Dinsdag in die hof kon verskyn nie. Die regter sal dan besluit of die redes aanvaarbaar is of nie.

Dit is uiters belangrik dat ons instellings, veral die howe, die boodskap uitstuur en dat die wiele van geregtigheid draai, al is dit hoe stadig.

Dr. Collette Schulz-Herzenberg, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, sê die lasbrief wys aan die publiek – “wie se vertroue in politici en ons demokratiese instellings reeds baie laag is” – dat die wiele van geregtigheid stadig maar seker draai.

“Dit wys ook aan die publiek dat niemand bo die gereg verhewe is nie. Dit is uiters belangrik dat ons instellings, veral die howe, die boodskap uitstuur en dat die wiele van geregtigheid draai, al is dit hoe stadig.”

Volgens Schulz-Herzenberg is dit belangrik omdat die publiek Zuma se verhoor baie noukeurig gaan volg.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Dan Mantsha  |  Lasbrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.