SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Hof
Leibrandt: Geen borgtog ‘vir almal se veiligheid’
Jacques van der Merwe en Cindy Esterhuizen, wat vroeër op borgtog van R1 000 elk vrygelaat is, by die landdroshof in Pretoria-Noord. Foto: Deaan Vivier

Vorige borgtogvoorwaardes het Francois Leibrandt (24) nie gestuit nie en die gemeenskap voel “geterroriseer” deur hom.

Dit was twee van die redes waarom landdros Naseema Khan Dinsdag in die landdroshof in Pretoria-Noord borgtog aan Leibrandt geweier het.

Leibrandt, wat glo in die verlede aan slagoffers gesê het nie eens die polisie kan iets aan hom doen nie “omdat hy ’n Leibrandt is”, het by die aanhoor hiervan effens rooi in die gesig geraak en oor sy gesig gevryf.

Francois Leibrandt Dinsdag in die landdroshof in Pretoria-Noord.Foto: Deaan Vivier

Agter hom het verskeie slagoffers in ander sake teen hom, verlig geglimlag.

Leibrandt word saam met sy meisie, Cindy Esterhuizen (26), en ’n vriend, Jacques van der Merwe (32), aangekla van aanranding, sowel as aanranding met die doel om ernstig te beseer op konst. Leon Mentz en sy broer, Arrie.

Leibrandt, wat drie ander sake teen hom het wat wissel van aanranding tot poging tot moord, en sy medebeskuldigdes het glo op 22 Junie die konstabel van Sinoville en sy broer so aangerand dat die polisieman meer as 80 steke in sy gesig moes kry, twee operasies moes ondergaan en skade aan die sig van sy een oog opgedoen het. Arrie moes ook verskeie steke kry.

Francois Leibrandt in die beskuldigdebank.Foto: Deaan Vivier

Luidens ’n verklaring van die ondersoekbeampte, ao. Ravi Naidoo, wat tydens die borgtogaansoek in die hof voorgelees is, het die twee manlike beskuldigdes die broers in ’n kuierplek in Magalieskruin, Pretoria, se badkamer getakel.

Esterhuizen het glo bygekom en vir konst. Mentz van agter met ’n bottel oor die kop geslaan. Toe die twee slagoffers vlug, het Leibrandt glo vir konst. Mentz met ’n gebreekte glas in die gesig gegooi.

Die drie is twee dae later in hegtenis geneem. Esterhuizen, wat met haar kind by Leibrandt bly, en Van der Merwe is verlede week op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Die aanklaer, Geminah Mbelengwa, het borgtog vir Leibrandt teengestaan, veral omdat hy reeds in die ander sake teen hom op borgtog of waarskuwing vrygelaat is.

Khan het Dinsdag in haar uitspraak in Leibrandt se borgtogaansoek gesê sy moet die moontlikheid dat hy weer ’n misdaad sal pleeg terwyl hy op borgtog is, in ag neem.

“Hoewel die hof nie geseënd is met profetiese versiendheid nie, kan ek vorige beweerde gedrag in ag neem. Die beskuldigde verskyn in dié hof, terwyl hy uit is op borgtog vir soortgelyke sake.

“Al die hangende sake (teen Leibrandt) het ’n element van geweld en die mate van geweld is ekstreem. Die GPF-voorsitter (van Sinoville se gemeenskapspolisiëringsforum) sê in sy verklaring die gemeenskap vrees vergelding van die beskuldigde,” het Khan gesê.

Francois Leibrandt in die landdroshof in Pretoria-Noord. Borgtog is Dinsdag aan hom geweier.Foto: Deaan Vivier

Sy het verwys na die erns van die Mentz-broers se beserings en het bygevoeg dat Leibrandt volgens die aanklaer bekend is by die kuierplek waar die voorval was.

“Die beskuldigde kan dus getuies wat bekend is aan hom intimideer,” het die landdros gesê.

Met verwysing na die openbare galery wat volgepak was met “geterroriseerde” gemeenskapslede wat Leibrandt se vrylating “vrees”, het Khan gesê Leibrandt se vrylating sal hul vertroue in die regstelsel skend.

“ . . . ook vir die beskuldigde se eie veiligheid, want die gemeenskap kan dalk reg in eie hande neem as hulle voel die regstelsel het hulle verloën. Dit sal vrede en veiligheid ondermyn,” het die landdros bevind.

Francois Leibrandt, Jacques van der Merwe en Cindy Esterhuizen in die beskuldigdebank.Foto: Deaan Vivier

Daarby, as Leibrandt nie sy vorige borgtogvoorwaardes nagekom het nie, sal nuwe borgtogvoorwaardes hom nie afskrik nie, het sy bygevoeg en borgtog geweier.

Die saak is tot Augustus uitgestel vir verdere ondersoek.

Leibrandt het teruggestap na die aanhoudingsel, maar vinnig ’n soentjie geblaas na iemand in die openbare galery.

* Buite die hof het Charles Kemp, voorsitter van die Sinoville-GPF, na die talle mense verwys wat hom sedert die Mentz-voorval met soortgelyke klagtes gekontak het. Hy sê die gemeenskap is “dankbaar” dat Leibrandt nie vrygelaat is nie.

“Die inwoners gaan beslis veiliger voel. Dit is ’n groot oorwinning vir die GPF. Ander forums moenie hul rol onderskat as hulle kan betrokke raak by hofsake soos dié een nie.”

Lees ook: Drie in hof ná konstabel in kuierplek aangerand is

Konst. Leon Mentz kort nadat hy glo deur Francois Leibrandt, sy meisie en ’n vriend aangerand is.

Meer oor:  Francois Leibrandt  |  Borgtog  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.