Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Lewenslank vir 2 wat ‘steunpilaar’ vermoor

Met albei sy middelvingers in die lug het ’n jong man Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth na die aanhoudingselle gestap om sy lewenslange tronkstraf vir moord te begin uitdien.

Eston Afrikaner (19) en Deswyn Kleinbooi (22) is daaraan skuldig bevind dat hulle die sakeman Naeem Desai vermoor het.

Eston Afrikaner (19) wys albei sy middelvingers vir die hofgalery kort voordat hy en Deswyn Kleinbooi (22) deur die hofordonnans na die aanhoudingselle geneem is. Foto: Cara-Lee Dorfling

Albei het omgedraai en na die hofgalery gekyk en gelag nadat regter Dayalin Chetty hulle tot lewenslange tronkstraf gevonnis het.

Desai, bekende sakeman en stigter van die Malabar Patrols-gemeenskapsinligtingsforum, is in die vroeë oggendure van 12 Mei 2016 in Helenvale doodgeskiet.

Desai en sy werkers was besig om brood af te lewer in dié bendegeteisterde gebied.

Chetty het Donderdag tydens vonnisoplegging gesê nie net is Desai se vrou van haar man ontneem nie, die gemeenskap is ook van een van sy steunpilare ontneem.

Chetty sê hy het in ag geneem dat die veroordeeldes jonk is en nog jonger was toe die moord gepleeg is. Hy sê daar kan aangevoer word dat hul onvolwassenheid ’n rol gespeel het.

Deswyn Kleinbooi (links) en Eston Afrikaner Donderdag in die beskuldigdebank voor vonnisoplegging. Foto: Cara-Lee Dorfling

Aangesien Afrikaner en Kleinbooi egter albei die gebied ken en weet die broodvragmotor doen daagliks omstreeks dieselfde tyd sy aflewerings, meen Chetty hul motief was gierigheid. Chetty sê dit was nie duidelik dat Desai daardie tyd van oggend geld in sy besit sou hê nie, maar die veroordeeldes het hom doodgeskiet op grond van slegs die hoop dat hy geld sou hê.

Afrikaner en Kleinbooi is elk tot lewenslange tronkstraf gevonnis op die aanklag van moord, asook 15 jaar weens roof met verswarende omstandighede.

Afrikaner is ook aan die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie skuldig bevind en is tot onderskeidelik 15 jaar en drie jaar op dié aanklagte gevonnis. Die vonnisse sal nie samelopend uitgedien word nie.

Armiena Desai, vrou van die vermoorde Naeem Desai, omhels adv. Garth Baartman, staatsaanklaer, kort nadat haar man se moordenaars tot lewenslange tronkstraf gevonnis is. Foto: Cara-Lee Dorfling

Armiena Desai, wat 20 jaar met Naeem Desai getroud was, het onbedaarlik in die hof begin huil nadat die vonnis opgelê is. Sy is deur familielede omhels waarna sy na adv. Garth Baartman, staatsaanklaer, gestap en hom bedank het.

“Ek kan dit nie verduidelik nie, want ek weet niks sal hom terugbring nie, maar om dié dag vir hom te hê . . . geregtigheid vir hom en vir die man wat hy was. My hart loop oor van geluk, net oor die wete dat hulle skuldig bevind is en lewenslank tronk toe gaan,” het Armiena gesê.

Afrikaner en Kleinbooi het albei kort ná die vonnisoplegging ’n aansoek vir verlof tot appèl ingedien om teen die vonnis en skuldigbevinding te appelleer.

Chetty het albei aansoeke van die hand gewys.

Die vermoorde Naeem Desai. Foto: Cara-Lee Dorfling

Meer oor:  Eston Afrikaner  |  Vonnis  |  Vermoorde  |  Moord  |  Lewenslank  |  Tronkstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.