Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Lewenslank vir moord voor swanger vrou en kind
Justice Sethlangu
Justice Sethlangu is Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Johann Heunis in 2016. Foto: Isabel Venter

Uiteindelik kan Mariandra Heunis, wie se man koelbloedig voor haar doodgeskiet is, dié hoofstuk van haar lewe afsluit.

“Ek kan uiteindelik sê dit is klaar. Reg en geregtigheid het geskied. Dit bring Johann nie terug nie, maar ek dink die regter het goed gedoen,” sê Heunis.

Johann is in 2016, ten aanskoue van sy swanger vrou en hul vierjarige dogter doodgeskiet.

Justice Sethlangu (39) is Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind aan Johann se moord en Woensdag lewenslange tronkstraf daarvoor opgelê.

Regter William Letsoalo was beslis in sy vonnisoplegging.

“Sy (Sethlangu se) koelbloedige dade het nie net skokgolwe deur die Kameeldrift-gemeenskap gestuur nie, maar ook deur die hele Pretoria,” het Letsoalo gesê.

Hy was veral gegrief omdat Johann voor sy dogter Mieke geskiet is, nadat sy vir hul aanvallers gesê het hulle kan maar haar spaargeld vat.

Heunis het destyds getuig hoe Sethlangu en sy makker haar en Johann in hul huis gedreig en geld geëis het.

“Hy (Sethlangu) het, inteendeel, glad nie na die meisie se pleidooie geluister nie, maar wild en wakker skote gevuur en die kind rakelings gemis. Ons kon maklik vandag met twee moordklagte te doen gehad het,” het Letsoalo gesê.

Die ander verdagte is nooit aangekeer nie.

Sethlangu ontken steeds sy aandeel in die moord.

Hy was uit die veld geslaan dat Heunis hom tydens ’n uitkenningsparade uitgewys het as een van die aanvallers.

Adv. Jerry Mtshwati, Sethlangu se regsverteenwoordiger, het dadelik ’n aansoek om verlof tot appèl probeer bring.

“My instruksies is om te appelleer teen die skuldigbevinding op die moordklag, asook die vonnis wat vandag opgelê is,” het Mtshwati gesê.

Johann en Mariandra Heunis. Foto: Verskaf

Buiten Johann se moord, is Sethlangu skuldig bevind vir sy aandeel in twee ander huisbrake in dieselfde omgewing.

Sy vingerafdrukke is ná die rooftog by die huis van dr. Marti Koen op 21 Junie 2016 en ná die rooftog op 29 Julie 2016 by die huis van Stephanus Louwrens en Maria Beets op die toneel gekry. Duisende rande se huisware en kontant is tydens die inbrake gebuit.

Sethlangu is skuldig bevind op drie aanklagte van huisbraak met die opset om te roof, moord en op aanklagte van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en patrone.

Letsoalo het Sethlangu tot 28 jaar direkte tronkstraf gevonnis op die aanklagte van huisbraak en sewe jaar elk op die wapenklagte.

Hy het gelas dat die vonnisse nie samelopend uitgedien word nie, wat beteken Sethlangu is effektief 42 jaar tronkstraf plus die lewenslange vonnis opgelê.

“Die hof het in ag geneem dat hy nog jonk en die pa van drie jong kinders is en dat sy vrou werkloos is. Maar mev. Heunis is op ’n jong ouderdom ’n weduwee en haar kinders sonder ’n pa. Sy moord sal in hul geheue ingeprent wees. Daar is geen buitengewone redes waarom hy (Sethlangu) dus geregtig is op ’n ligter vonnis nie,” het Letsoalo gesê.

Kameeldrift: “Hier is daagliks probleme”

Frans Parsons, ’n jare lange inwoner in die Kameeldrift-omgewing, sê daar gaan nie ’n dag verby dat daar nie ’n misdryf in die omgewing aangemeld word nie.

“Elke liewe aand is daar drade wat geknip word of kry ons spore,” sê Parsons, wat ook deel is van die plaaswag in die omgewing.

Op sy kleinhoewe was daar die afgelope jaar drie aanvalle, waarvan een afgeweer kon word. Tydens een van die voorvalle is Parsons se werkers met ’n byl aangeval en gedreig. In die ander aanval is ’n verdagte aangekeer wat op Parsons en sy gesin geskiet het.

Op ’n naburige plaas was daar in dieselfde tydperk vyf aanvalle, sê Parsons.

“Ons besef die polisie is onder druk, so ons het self begin om proaktief op te tree. Daar is nog gereeld ernstige aanvalle, maar ook heelwat wat afgeweer word,” sê Parsons.

Seker een van die opspraakwekkendste aanvalle in dié omgewing was op die oud-Springbok Naka Drotské in November 2018.

Naka en sy vriend en sakevennoot, Os du Rand, het by Tinus Drotské, Naka se broer, gebraai toe hulle aangeval is.

Volgens Parsons is daar nog geen sprake van enige inhegtenisnemings in verband met die saak nie.

Die polisie in die omgewing kon nog nie dié inligting bevestig nie.

Om te laat gaan

“Soms moet jy laat gaan en vry wees.”

Heunis het Dinsdag dié foto op Facebook gesit ná Sethlangu se skuldigbevinding.

“Hy is skuldig bevind op al die aanklagte teen hom. Ek kan uiteindelik sê dit is klaar. Dankie vir al die ondersteuning en liefde,” skryf sy.

Sy was nie self in die hof toe Sethlangu skuldig bevind en gevonnis is nie. Dit was Dinsdag Mieke se verjaardag en sy wou by haar wees vir haar verjaardagpartytjie.

“Maar ek is so bly oor die nuus, ek dink die regter het al die regte bevindings gemaak,” het sy telefonies aan Netwerk24 gesê.

Wat die pad vorentoe betref, hou sy steeds aan om ander slagoffers soos sy by te staan met berading.

“Wel, nou aanlyn, weens die staat van inperking, maar ons gaan voort,” sê sy.

Meer oor:  Johann Heunis  |  Justice Sethlangu  |  Mariandra Heunis  |  Pretoria  |  Vonnis  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.