Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Liam se lykie gekry

Ure nadat Nantes Nortjé Vrydag lewenslank tronk toe gestuur is vir die moord op sy tweejarige seun – wat hy beweer steeds springlewendig is – is die kleuter se Spider Man-sandaaltjies by die geraamte van ’n kind in ’n vlak graf gekry.

Liam Nortjé, hier saam met sy ma, Cheinelle, was twee toe hy in November 2017 weggeraak het terwyl hy in sy pa, Nantes, se sorg was. Sy pa is pas aan moord skuldig bevind.

’n Inwoner van Harrismith in die Oos-Vrystaat het Vrydag met sy hond in ’n veld in die woonbuurt Intabazwe gaan stap toe die troeteldier ’n graf oopgrawe.

Ao. Mmako Mophiring, ’n polisiewoordvoerder, het aan Rapport bevestig dat Cheinelle Brooks die vuil blou sandaaltjies as haar seun, Liam, s’n uitgeken het. Sy het dit vir hom gekoop. “Die oorskot is na die plaaslike lykshuis geneem en forensiese ondersoekers sal nou DNS-ontleding doen om te bepaal of dit Liam se oorskot is. Dit lyk of die oorskot al ’n geruime tyd daar naby ’n spoorlyn begrawe is.”

Liam het in November 2017 vermis geraak toe hy vir ’n naweek by sy pa op Kestell in die Oos-Vrystaat gaan kuier het. Nortjé en Brooks was besig om te skei.

‘My pa is flippen skuldig. Ek voel niks meer vir hom nie.’

Nortjé het sedertdien geweier om te sê waar Liam is. Ná sy inhegtenisneming vir moord het hy beweer hy het Liam vir ’n kinderlose oorsese egpaar gegee.

In ’n buitengewone saak het regter Corné van Zyl Dinsdag in die rondgaande hooggeregshof op Harrismith Nortjé skuldig bevind aan moord, al kon die staat nie Liam se oorskot vind nie. Dit is nie ’n vereiste in die Suid-Afrikaanse reg dat daar ’n lyk moet wees vir ’n skuldigbevinding aan moord nie. Van Zyl het gesê dit is verswarend dat Nortjé sy familie verder gemartel het deur nie vir hulle afsluiting te gee nie.

Brooks en haar 17-jarige dogter het teen Donderdag nog aan Rapport gesê hulle klou vas aan die geloof dat Liam lewe. “Ek hoop hy het ’n dak om onder te slaap, ’n bed en kos,” het die dogter gesê. Sy mag nie geïdentifiseer word nie, omdat sy ook ’n slagoffer is van misdaad. Haar pa het haar ook aangerand.

Liam Nortjé

Die ousus het gesê totdat sy seker is haar laatlamboetie is dood, weier sy om te glo dat haar pa hom vermoor het.

Maar gister het sy hartseer gesê: “My pa is flippen skuldig. Ek voel niks, niks meer vir hom nie. Hy is niks van my nie. Ek wil hom net in die tronk gaan gryp en vra: ‘Waarom het jy dit gedoen?’ ”

Sy het gister gesê haar ma hanteer nie die jongste verwikkeling goed nie. Dit is ook vir haar en haar ma ’n raaisel hoe Liam in Harrismith, waar sy en haar ma bly, beland het. Nortjé het in Kestell, sowat 50 km daarvandaan, gewoon en Liam het daar vermis geraak.

Die skoene wat Vrydagoggend deur ’n man en sy hond in ’n veld tussen Harri­smith en Intabazwe gevind is. Cheinelle het dit herken as Liam s’n.

Mophiring sê die ondersoek na Liam se verdwyning is iets wat die plaaslike polisiegemeenskap diep geraak het.

Hulle het elke moontlike leidraad opgevolg om te keer dat dit ’n onopgeloste saak word.

“(Nortjé) het ons van bakboord na stuurboord gestuur. Van Bethlehem na Harrismith – dan was die baba dáár en dan dáár.”

Regter Van Zyl het die moord as boosaardig beskryf. Nie net was dit vooraf beplan uit vergelding omdat sy vervreemde vrou ’n nuwe vriend gekry het nie, maar hy het ook met sy leuens die familie laat aanhou glo dat Liam lewe.

Al wat die staat kon aanbied as bewys dat Liam regtig dood is, is ’n haarlok van Liam in ’n kamerasak, waar Nortjé dit skynbaar gelos het.

Nantes Nortjé, wat Vrydag lewenslank tronk toe gestuur is vir die moord op sy kleuterseuntjie, Liam. Foto: Alet van der Walt

Die hare was afgeskroei en vasgebind in ’n rekkie.

Liam se ma het daarop afgekom twee weke nadat sy haar kind laas lewend gesien het en dadelik geweet daar is fout, want Liam se pa het altyd geweier dat die seun se poniestert afgesny word.

Die hof het bevind Nortjé is ’n leuenaar en dat hy geneig is tot geweld.

’n Psigiater het hom as ’n manipulerende psigopaat beskryf.

Hy is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op sy kind. Hy is ook agt jaar tronkstraf opgelê vir die aanranding met die opset om sy eksvrou ernstig te beseer en nóg nege maande vir aanranding van sy oudste dogter.

Die aanrandings het plaasgevind voor Liam se verdwyning.

Nortjé het Donderdag terwyl hy gewag het dat hofverrigtinge begin, aan Volksblad gesê Cheinelle was nie ’n goeie ma nie.

Kort ná sy vonnis het hy gesê hy is nie ’n moordenaar nie en dat hy nie sy kind vermoor het nie.

Hy het gesê hy dien die vonnis uit “vir ’n kind wat hy liefhet”.

“Wat ek gedoen het, is om hom te beskerm omdat ek hom liefhet. Dit wil nie sê ek het hom doodgemaak nie.”

Meer oor:  Liam Nortjé  |  Nantes Nortjé  |  Harrismith  |  Moord  |  Kindermoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.