Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Likwidasie van MTI laat klok lui vir geldgevegte

Beleggers wat miljoene rande gemaak het uit Mirror Trading International (MTI), een van die grootste bitcoin-skelmstreke ter wêreld, veg verbete om dié winste te behou.

Johann Steynberg Foto: Facebook

Dít terwyl soveel ander hul allerlaaste spaargeld in die skema belê en toe alles verloor het, sê Riaan van Rooyen van Investrust, een van die likwidateurs.

Volgens Van Rooyen het die likwidateurs reeds sowat R1 miljard teruggekry en nog R4 miljard opgespoor, maar nog nie herwin nie. Hulle hoop om miljarde meer as dit op te spoor en terug te kry.

Die hooggeregshof in Kaapstad het MTI die afgelope week finaal gelikwideer, wat die weg baan vir die eerste vergadering van krediteure.

Op dié vergadering sal mense wat geld verloor het ná die verdwyning in Desember van Johann Steynberg, die voormalige uitvoerende hoof en enigste direkteur van MTI, hul eise kan bewys om voordeel te trek wanneer MTI se bates verdeel word.

Van Rooyen sê hy het reeds nege ringlêers vol eise, maar dit is nog net ’n fraksie van al die eise wat verwag word.

Hy sê mense wat wel uitbetalings gekry het, maar ook baie geld verloor het, hoef nie te vrees dat hulle eers moet terugbetaal voordat hul eise behandel word nie.

“Ons sal dit wat hulle ontvang het, aftrek van wat MTI hulle skuld en ’n eis registreer vir die nettobedrag,” het hy gesê.

Uitbetalings aan beleggers het reeds voor Steynberg se verdwyning begin opdroog. Toe stort die hele skema in duie.

Steenberg is glo die enigste persoon binne MTI met toegang tot die “beursies” waarin lede se bitcoin gehou is.

MTI het beweer dat hy ’n baie slim rekenaar inspan en daagliks groot winste gemaak het uit bitcoin-verhandeling. Die gesagsowerheid vir die finansiële dienstesektor (FSCA) het egter ná ’n ondersoek bevind dat dit ’n bedrogspul was en dat geen verhandeling plaasgevind het nie.

Die skema het ook groot aansporingsbedrae uitbetaal in wat die likwidateurs as netwerkbemarking beskryf. Volgens van Rooyen het dit veroorsaak dat lede vals rekeninge geskep het – party selfs in die naam van hul troeteldiere – om kommissie te verdien.

Volgens Van Rooyen het sowat 3 000 van die meer as 27 000 “lede” van MTI, oftewel beleggers, miljoene rande gemaak. Die likwidateurs beskou dit as die opbrengs van ’n onwettige skema en meen dié wenners moet opdok en terugbetaal.

Hulle het aansoek gedoen om ’n verklarende bevel dat MTI ’n onwettige skema is. Die hof hoor op 8 September argumente daaroor aan.

Clynton Marks, wat soos Steynberg ’n belang van 50% in MTI het, staan dié aansoek teen.

Hy en sy vrou, Cheri, wat MTI se openbare kommunikasie en bemarking behartig het, was lede van MTI se bestuur.

Volgens hofstukke voer Marks aan dat MTI nie ’n onwettige beleggingskema is nie, maar bloot ’n verhandelingsplatform verskaf het.

Lede het dan hul bitcoin saamgegooi vir verhandeling en aan MTI beheer daaroor gegee, maar dit behoort steeds aan die lid self.

“Bitcoin is ’n nie-tasbare kriptobate en eienaarskap in die tradisionele sin van die reg is nie moontlik nie.”

Marks sê hy sal bewys dat daar wel verhandeling plaasgevind het en dit is algemene praktyk dat mense wat verhandeling doen, moet vrede maak daarmee as hulle verliese ly.

Hy betwis verder dat daar veelvlakbemarking was en sê net omtrent 10% van die lede het enige inkomste uit die bemarking gekry.

Die likwidateurs gaan intussen voort met die geheime ondervraging van betrokkenes in ’n poging om nog bates op te spoor.

Hulle hoop om die verskillende provinsies te besoek om diegene wat geld verloor het by te staan met die indien van eise.

Meer oor:  Johann Steynberg  |  Bitcoin  |  Likwidasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.