’n Hewige stryd woed om die beheer van Mirror Trading International (MTI), die beweerde multimiljardrand-bitcoin-verneukspul wat Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad voorlopig gelikwideer is.
Die meester van die hooggeregshof sal die likwidateurs na verwagting Dinsdag aanstel. Hulle moet byna R6 miljard opspoor wat volgens MTI se data aan beleggers behoort.
Dít kom nadat Johann Steynberg, uitvoerende hoof van MTI, vroeg verlede maand na Brasilië vertrek en sedertdien soos ’n groot speld verdwyn het.
Steynberg het toegang tot die ‘beursies’.
Steynberg is glo die enigste persoon met toegang tot die “beursies” waarin MTI-beleggers se bitcoin-kriptogeld gestoor is.
Adv. Hendrik van Staden, wat die hofstukke vir die likwidasie-aansoek help opstel het, sê dit is baie belangrik om likwidateurs aan te stel wat ervaring het van piramideskemas en kripto-geldeenhede.
Hoewel likwidateursgeld deur die Insolvensiewet bepaal word, sal die likwidateurs wat dié aanstelling kry vanweë die omvang van die saak heelwat daaruit verdien. Hulle sal boonop bepaal watter prokureurs en afslaers aangestel word en daardeur beheer hê oor ’n baie waardevolle waardeketting.
Vanweë die omvang van die likwidasie – daar is sowat 280 000 krediteure in byna elke land ter wêreld – kan die meester glo drie of selfs vier likwidateurs aanstel om saam aan die boedel te werk.
Elke skuldeiser is daarop geregtig om ’n likwidateur te benoem. Die meester besluit op grond van die getal benoemings en die waarde van die eise wat deur hulle verteenwoordig word wie hy aanstel.
Die Recovery-aksiegroep (RAG) steun die aanstelling van drie likwidateurs: Tygerberg-trust, Sebenza-trust en Invest-trust.
Die RAG is die afgelope week tot stand gebring en het reeds meer as 11 000 lede wêreldwyd op sy Telegram-boodskapgroep.
Die Kaapstadse prokureursfirma Jan Luitingh steun op sy beurt die aanstelling van Robert Knoop van Manci Knoop.
Rapport het verneem dat minstens twee van die benoemde likwidateurs reeds meer as 4 000 benoemings ontvang het.
Die meester sal van môre daardeur moet sif om te verseker dat daar nie duplisering is nie, die waarde bepaal en verseker dat dit aan al die wetsvereistes voldoen.
* Steynberg se vrou, Nerina, wat ook nou by MTI se bedrywighede betrokke is, het die afgelope week nie op Rapport se navrae gereageer nie. Sy is luidens berigte steeds in Suid-Afrika.
MTI se bemarkingsbestuurder, Cheri Marks, het ook nie op navrae van Rapport gereageer nie.
Haar woning van meer as R10 miljoen in Durban-Noord en die Steynbergs se meer beskeie woning in Polokwane is vroeër deur die gedragsowerheid vir die finansiële sektor (FSCA) deurgesoek en daar is beslag gelê op bewysstukke.
Die FSCA het strafregtelike klagte ingedien teen MTI en Johann Steynberg en Marks by name genoem.