’n 23-jarige man wat glo twee vroue vermoor het “omdat hulle hom getoor het”, het Vrydag in die landdroshof in Thohoyandou verskyn
Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, sê Muano Maphula het na bewering op 16 Augustus 2020 by Caroline Muvhulawa (54) en haar ma, Mudzunga Muvhulawa (88) se huis in die Lunungwi-nedersetting buite Thohoyandou ingebreek.
Die twee vroue is met ’n skerp voorwerp in stukke gekap. Maphula, ’n buurman van die vroue, is ’n dag ná die moorde in hegtenis geneem.
“Die ander dogter van die bejaarde vrou het die bure gekontak omdat sy onrustig geraak het toe verskeie foonoproepe na haar ma en suster nie beantwoord is nie,” sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder.
“Hulle is toe na die huis om ondersoek in te stel. Dit is toe dat die gru-ontdekking gemaak is,” sê Mojapelo.
Maphula bly in aanhouding en sal op 26 Februarie 2021 weer in die hof verskyn. Hy staan ??tereg op twee aanklagte van moord en huisbraak met die doel om te moor.