Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Listeriose: Groep-eis sloer weens nuwe regsoptrede

Die groepsgeding teen Tiger Brands oor die listeriose-uitbreking van 2017-’18 is verder vertraag. Die geding sal later moet begin weens die voedselreus se jongste regsoptrede, wat as “uitsteltaktiek” bestempel is.

Volgens Richard Spoor, die eisers se prokureur, het die voedselreus onlangs “elke vleisverwerkingsmaatskappy in die land” gedagvaar om hul roetine-toetsuitslae in die tydperk van die listeriose-uitbreking, bekend te maak.

Meer as 200 mense is in 2017 en 2018 in Suid-Afrika dood weens die uitbreking – volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie die grootste uitbreking ter wêreld – terwyl die owerhede na die bron daarvan gesoek het. Honderde ander het siek geword of is op ander maniere daardeur benadeel.

‘Uitsteltaktiek’

Tiger Brands, wat op die JSE se top40-indeks is, ontken aanspreeklikheid in die groepsgeding waaraan meer as 700 eisers tot dusver gaan deelneem.

Spoor sê voedselverwerkers moet as ’n standaard-veiligheidsmaatreël hul produkte gereeld laat toets.

“Dit (Tiger Brands se dagvaardings vir die uitslae van die toetse) is ’n uitsteltaktiek en daar is twee probleme hiermee: Die groepsgeding teen Tiger Brands is baie spesifiek en sluit klaers in wat sê hulle het produkte van Tiger Brands geëet wat die LST6-stamme bevat het. Om te gaan bewys ’n varkplaas in Worcester bevat ’n sekere stam van Listeria gaan geen uitwerking hê op die groepsgeding self nie, want die mense wat deur daardie varkplaas besmet is, vorm nie deel van die groepsgeding nie,” sê Spoor.

Hy sê daar is verskillende stamme van die Listeria-bakterie, asook ander kieme, “dis waarom daar roetine-toetse vir voedsel is”.

‘Slegte publisiteit’

Spoor sê nog ’n probleem is dat die toetse uiters vertroulik is. Die maatskappye weier dus om die uitslae te verskaf. “Om maatskappye te dwing om dit bekend te maak, bring voedselveiligheid in gedrang. Maatskappye gaan mos nou nie meer die toetse wil ondergaan as hulle weet hulle kan dalk gedwing word om die uitslae bekend te maak nie. Nie alle stamme van Listeria lei tot listeriose-uitbrekings nie, maar ’n vrees vir slegte publisiteit kan maak dat hulle dan nié die toetse wil ondergaan nie.”

Die saak oor die dagvaardings kom volgens Spoor in van 13 tot 15 Mei 2020 in die hof voor. Die groepsgeding se hofdatum is nog nie vasgestel nie.

Slagoffers soek afsluiting

Tiger Brands se Enterprise-aanleg in Polokwane, Limpopo, is in Maart 2018 as die hoofbron van die uitbreking geïdentifiseer. Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) was die bakterie Listeria monocytogenes vir die uitbreking verantwoordelik.

Niks wat julle kan doen, kan ons wonderwerk terugbring nie, maar ons het afsluiting nodig.

Tiger Brands het op 26 April 2018 in ’n verklaring (hyperlink) erken hy het stamme van Listeria monocytogenes ST6 in sy Polokwane Enterprise-produkte gevind.

Annelize le Roux, wat in Februarie 2018 met listeriose gediagnoseer is kort nadat sy haar ongebore baba verloor het, wens Tiger Brands wil mansgenoeg wees en “die stilte verbreek”.

Le Roux, een van die groepsgeding se 14 verteenwoordigers, het haar Facebook-inskrywing as kommentaar aan Netwerk24 verskaf.

“Niks wat julle kan doen, kan ons wonderwerk terugbring nie, maar ons het afsluiting nodig,” skryf Le Roux aan Tiger Brands nadat sy van hul jongste regsoptrede verneem het.

“Al wat ek van hulle (Tiger Brands) vra, is om te man up en die stilte te verbreek,” sê sy in ’n kommentaar.

Tiger Brands reageer

Tiger Brands ontken in ’n verklaring dat hy met die dagvaardings opsetlik die proses probeer vertraag. 

“Tiger Brands het te alle tye verantwoordelik opgetree en die eis so spoedig moontlik onder die omstandighede gehanteer. Tiger Brands het geen motief of rede om die afhandeling van die groepsgeding te vertraag nie; inteendeel, (Tiger Brands) het baie empatie met die posisie waarin die lede van die groepe hulle bevind.”

Die voedselreus sê deur in te stem tot die sertifisering van die groepsgeding het hy die sertifiseringsproses, wat “baie jare kan neem” reeds versnel. Hy het boonop R1 miljoen geskenk om die groepsgeding te adverteer sodat eisers kon toetree.

Tiger Brands sê die dagvaardings om inligting van Nios en ander laboratoriums te bekom, is nodig omdat die hele groepsgeding gegrond is op Nios se gevolgtrekking dat net Tiger Brands vir die hele listeriosie-uitbreking verantwoordelik was. Die saak teen hom wentel hierom. 

Volgens Tiger Brands het hy voor die groepsgeding al “afskrifte van die epidemiologiese getuienis en ander data waarop Nios staatgemaak het vir sy gevolgtrekking” versoek, maar die versoeke is van die hand gewys.

“Dit is waarom dagvaardings op ‘n aantal laboratoriums en Nios bedien is om rekords te bekom van hul roetine- of spesiale toetse en ontledings vir Listeria in die produkte of in die produksie-aanlegte van ander voedselvervaardigers ten tyde van die uitbreking.

“As die getuienis objektief bewys dat Tiger Brands se aanleg die enigste oorsaak vir die uitbreking was en hierdie gevolgtrekking is gegrond op betroubare data, sal Tiger Brands probeer om ‘n spoedige resolusie vir hierdie groepsgeding te kry. Maar die verweer van die bewerings teen Tiger Brands sal geraak word as ondersoeke ‘n alternatiewe bron . . . aan die lig bring wat tot die uitbreking bygedra het.”

Volgens Tiger Brands weier van die laboratoriums en entiteite wat gedagvaar is om die rekords te verskaf. Ander het hofaansoeke ingedien om die dagvaardings ter syde te laat stel en ander staan dit teen. Dit is waarom hulle in Mei hof toe gaan.

“Nios het sedert die bediening van die dagvaarding sommige van die inligting, maar nie alles wat versoek is nie, voorsien.

“Totdat Tiger Brands toegang tot al die data gekry het, het hy geen opsie as om voort te gaan met die verdediging van die groepsgeding nie. Tiger Brands is toegewyd om die groepsgeding so spoedig moontlik af te handel.”



Meer oor:  Richard Spoor  |  Listeriose  |  Tiger Brands
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.