Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Listeriose-saak: ‘Dit was g’n óns polonie,’ sê Tiger

Die voedselvervaardiger Consumer Brands van Tiger Brands het te midde van die grootste listeriose-uitbreking in die wêreld ’n gesondheidsinspekteur by sy Polokwane-fabriek weggejaag omdat dié glo nie die regte papierwerk gehad het nie.

Die Enterprise-fabriek in Polokwane. Foto: Deon Raath

Dit word onthul in Tiger Brands se hofstukke wat Donderdag in die hooggeregshof in Johannesburg ingedien is om hom teen ’n groepsgeding te verweer. Dieselfde hof het in Desember Richard Spoor, menseregteprokureur, toestemming gegee om voort te gaan met ’n groepsgeding. Spoor was ook betrokke by ander groot groepsgedinge soos die silikose-geding teen myne.

Tiger Brands het nie die groepsgeding teengestaan nie en selfs R1 miljoen bewillig om potensiële eisers daarvan in te lig. Die groep het gesê dis welwillendheid en aangedui dat hy enige geldige eise sal oorweeg.

Maar Donderdag het Tiger Brands en Consumer Brands amptelik ten sterkste ontken dat hul polonie of ander produkte gelei het tot die listeriose-uitbreking, wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) as die grootste ter wêreld bestempel is. Meer as 200 mense is dood.

Die maatskappye het vier van die land se top-advokate aangestel wat byna elke bewering van die eisers ontken en bewyse vra.

Die maatskappye het vier van die land se top-advokate aangestel.

Minstens 443 babas jonger as 28 dae het in die epidemie listeriose opgedoen en 93 is daaraan dood. Nog nege kinders is weens die uitbreking dood en ’n groot getal vroue het miskrame gehad of hul babas is dood, en van dié wat oorleef het, is sommige nou vermink, lui die hofstukke.

Consumer Brands sê redelike stappe is gedoen om besmetting van voedselprodukte te voorkom.

Toe die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) in September 2017 begin alarm maak het oor toenemende gevalle van liste­riose, het dit nie onder hul aandag gekom nie, sê die maatskappye. Teen Desember 2017 het die regering ’n krisis verklaar, en die maatskappye het hul toetse vir die Listeria-bakterie hierna vermeerder.

Op 31 Januarie 2018 het ’n inspekteur van die Capricorn-distriksraad by die Enterprise-fabriek in Polokwane – ’n beweerde hoofbron van die uitbreking – aangekom om monsters te neem, maar hy is weggejaag. Die gesondheidsdepartement kon eers op 2 Februarie monsters hier bekom.

Kort daarna het Consumer Brands hul eie monsters geneem en die Listeria-bakterie in twee van hul drie waterverkoelers vir polonie gevind. Die maatskappye sê die water is behandel en daar is voortgegaan met bedrywighede.

Op 13 Februarie het hulle Listeria in Mielie Kip-polonie in die Polokwane-fabriek gevind en dié betrokke besending van die rakke teruggeroep. Eers op 16 Februarie het Consumer Brands ’n “krisiskomitee” gestig “om vas te stel of enige van hul geriewe of produkte betrek word”. Teen dié tyd het die uitbreking en histerie oor listeriose ’n hoogtepunt bereik.

Twee weke later het Consumer Brands ’n “korrektiewe plan” by die Capricorn-munisipaliteit ingedien, die regering het die uitslae van sy Enterprise-monsters gekry en min. Aaron Motsoaledi het aangekondig die regering het die oorsprong van die listeriose gevind.

Consumer Brands het sy fabrieke in Polokwane en Germiston aan die Oos-Rand op 4 Maart gesluit en al hul produkte teruggeroep.

Die saak word later aangehoor. Daar is nog nie ’n eisbedrag aan die groepsgeding gekoppel nie.

Die eisers is in vier kategorieë: dié wat listeriose opgedoen het en oorleef het, families van mense wat dood is weens listeriose, babas wie se ma’s listeriose opgedoen het gedurende swangerskap en mense wat moes omsien na listeriose-pa­siënte. Die eisers van oor die land heen wat namens almal optree se agtergronde wissel van werkloses tot ’n ingenieur en ginekoloog.

Die maatskappye word verteenwoordig deur advv. Wim Trengove SC, Martin Kriegler SC, Kate Hofmeyr en Rashad Ismail.

Meer oor:  Tiger Brands  |  Consumer Brands  |  Listeriose
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.