Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Lyfstraf: Spaar nie die roede nie...

Suid-Afrika sien nou eers die gevolge van die afskaffing van lyfstraf in skole meer as 20 jaar gelede, het die konstitusionele hof Donderdag gehoor.

Die Christelike belangegroep Freedom of Religion SA (For SA) het die hof gevra om die effektiewe afskaffing van lyfstraf deur ouers te herroep. Dít is nadat die hooggeregshof in Johannesburg bevind het die verweer van ouers op ’n moontlike aanrandingsklag dat hulle “redelike en matige” lyfstraf toegepas het, ongrondwetlik is.

Die ministers van justisie en maatskaplike ontwikkeling, die vervolgingsgesag en verskeie ander organisasies ondersteun die algehele afskaffing van lyfstraf. For SA het in die hof gesê dié groepe maak die verstommende stelling dat lyfstraf nou al meer as 20 jaar in skole verbied is en dat dit nié tot ’n verbrokkeling van die gemeenskap se morele standaarde gelei het nie.

“ ’n Mens hoef net ’n koerant op te tel om te sien dat ons skole in die laaste paar jare gevaarsones geword het vir onderwysers en leerlinge,” sê For SA in hul betooghoofde.

Die organisasie sê verder dit is blote menings dat lyfstraf skadelik is vir kinders.

GroundUp berig For SA het ’n simpatieke oor gekry by hoofregter Mogoeng Mogoeng.

Hy het vir adv. Ann Skelton van die Sentrum vir Kinderreg gevra of daar nie ’n regstreekse verband is tussen die skynbaar onbeheerde wangedrag onder jong mense en die afwesigheid van lyfstraf nie.

Volgens hom is daar ongekende geweld in skole en voorbeelde van leerlinge wat onderwysers aanrand.

Mogoeng het ook gevra of matige lyfstraf nie positiewe resultate kan hê nie.

Skelton het gesê dis juis weens die volgehoue gebruik van lyfstraf dat ’n gewelddadige samelewing geskep is.

Skelton, asook ander organisasies soos die Quaker-vredesentrum, Sonke Gender Justice en die Dullah Omar-instituut voer aan ouers moet liewer bemagtig word met positiewe dissiplineringtegnieke vir kinders.

Ander regters soos regter Leona Theron het weer gevra of alle vorme van geweld nie verbied behoort te word gegewe die hoë voorkoms van geweld teen vroue en kinders nie.

Die regsverteenwoordigers van die onderskeie partye het ook gedebatteer of dié kwessie beslis behoort te word deur die 11 regters van die hof en of dit nie eerder deur die parlement ná openbare konsultasie gereguleer moet word nie.

For SA het Swede as ’n voorbeeld gebruik waar dit 14 jaar geneem het om lyfstraf te verbied terwyl hulle die publiek daarby betrek het en ouers bemagtig het met alternatiewe strategieë.

Die rede waarom die konstitusionele hof nou gevra is om oor die kwessie te beslis, is die vervolging van ’n pa wat sy 13-jarige seun glo aangerand het nadat hy pornografie op die kind se iPad gekry het.

Die pa se verweer is dat hy ingevolge die Moslem-geloof opgetree het en billike lyfstraf toegepas het.

Die hooggeregshof het dié verweer verwerp en gesê dis ongrondwetlik.

Die konstitusionele hof het uitspraak voorbehou.

Meer oor:  Dissipline  |  Kinders  |  Konstitusionele Hof  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.