Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Lyk in kattebak: Man kán verhoor word, lui verslag

Daar is geen psigiatriese rede hoekom een van die beskuldigdes wat glo ’n man vermoor en sy lyk in ’n kattebak gesit het, nié verhoor kan word nie.

Die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria het Donderdag in ’n verslag wat by die streekhof in Cullinan ingedien is, gesê André Oosthuizen is in ’n evalueringstyd van 30 dae klinies getoets en sy algemene optrede is waargeneem.

“Daar is geen psigiatriese diagnose nie. Daar is geen geestelike versteuring of intellektuele gestremdheid wat sy vermoë om ’n hofsaak te volg en tot sy verdediging by te dra, beïnvloed nie,” lui die verslag.

Daar is ook niks wat tydens die beweerde misdryf sy vermoë om tussen reg en verkeerd te kon onderskei, sou kon beïnvloed nie.

Oosthuizen is in Februarie, kort voordat die verhoor teen hom en sy vriend, Wouter Welhellem Beyneveldt, sou begin, vir psigiatriese waarneming gestuur omdat hy beweer het dat hy nie kan onthou wat tydens die voorval gebeur het nie en dat hy “uit-blank”.

Noudat daar bevind is dat hy wel verhoor kan word, is die saak teen hom en Beyneveldt Donderdag uitgestel om weer ’n verhoordatum te bepaal.

André Oosthuizen Foto: Facebook

Hulle word aangekla van die moord op Craig Stephens (53), diefstal van sy motor en regsverydeling deur sy lyk van die misdaadtoneel te verwyder en dit te wou versteek.

Stephens se voos geslaande en vasgebinde lyk is op 20 Mei 2018 deur ’n insleepdiens en die Tshwane-metropolisie in die bagasieruim van sy eie motor gevind waar dit in Sefako Makgatho-rylaan, Montanapark, gestaan het – net daar waar dit teen ’n paal gebots het.

Die enjin het nog geluier toe die motor gevind is.

Die kattebak is oopgemaak en Stephens se lyk, met kouse in sy mond gedruk, is daarin gevind.

Luidens die nadoodse verslag word die oorsaak van sy dood aangedui as verwurging, vermoedelik gepaardgaande met versmoring/verstikking.

Oosthuizen en Beyneveldt is binne ure vasgetrek.

In hul borgtogaansoek destyds het die hof gehoor dat hulle en Stephens in ’n informele nedersetting in Kameeldrift, noordoos van Pretoria, gebly het.

Beyneveldt het soms ’n woonwa met Stephens gedeel. Oosthuizen het in ’n woonwa langsaan gebly.

’n Buurvrou het glo die aand van 19 Mei 2018 ’n struweling in Stephens se woonwa gehoor.

Die volgende dag om 06:00 het sy albei die beskuldigdes uit die oorledene se woonwa sien kom en met Stephens se motor wegry.

Oosthuizen het bestuur.

Ongeveer ’n uur later is die verlate motor gevind.

Dit blyk dat die moordenaars in hul haas om van die lyk ontslae te raak, te vinnig in ’n glybaan ingedraai en beheer oor die motor verloor het.

Die twee beskuldigdes is steeds in aanhouding nadat hulle borgtog geweier is.

Meer oor:  Cullinan  |  Kattebak  |  André Oosthuizen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.