Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ma 30 jaar tronk toe weens moord op 3-jarige dogter

’n Ma van Montagu is tot 30 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy haar dogter met haar kaal hande verwurg het.

Karen Isaacs (30) van die plaas Bloufontein by Montagu is Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad gevonnis nadat sy ’n pleitooreenkoms met die staat gesluit het.

Isaacs het skuld beken op twee aanklagte – een van kindermishandeling en een van moord.

Luidens die pleitooreenkoms het sy het beken sy het haar dogter, Kay-Leigh Isaacs (3), mishandel deur haar gereeld te vloek, haar met die dood te dreig, haar rond te pluk terwyl sy onder die invloed van drank was en deur ander optrede wat haar emosioneel en sielkundig erge skade kon berokken.

Sy het Kay-Leigh op 16 Maart vanjaar vermoor deur haar te verwurg.

Luidens die pleitooreenkoms was Isaacs tien jaar lank in ’n saambly-verhouding met Willem Olifant.

’n Ander man, Saron Spelman, het verskeie kere seksueel by haar probeer aanlê, maar Isaacs het nie hierop gereageer nie. Spelman het glo aggressief geraak en soms deure en vensters gebreek en ook vir Olifant gedreig. Olifant kon nie terugbaklei nie omdat hy baie siek is.

Die probleme met Spelman het vir Isaacs ondraaglik begin raak en sy het selfdood oorweeg.

Luidens die pleitooreenkoms het Isaacs op 16 Maart begin drink nadat sy wakker geword het en gedink indien Spelman haar en Olifant doodmaak, sal daar niemand wees wat na haar kinders kan kyk nie. Sy het drie ander kinders tussen die ouderdom van sewe en 15 jaar.

Sy het besluit dit sal die beste wees as sy Kay-Leigh vermoor. Sy het haar na ’n afgeleë plek op die plaas geneem, haar verwurg en haar lyk net daar gelos. Sy is hierna na ’n vriendin, waar sy aanhou drink het.

Kay-Leigh is op 20 Maart as vermis aangemeld. Die polisie het Isaacs gevra of sy weet waar haar dogter is, waarop sy aanvanklik gesê het sy weet nie.

Sy het die polisie egter later ingelig oor wat gebeur het en waar die lyk is.

Die polisie het Kay-Leigh se ontbinde lyk gevind waar Isaacs gesê het dit sou wees.

Isaacs het skuld beken en is ses maande gevangenisstraf opgelê weens kindermishandeling en 30 jaar gevangenisstraf weens moord.

Twee van Isaacs se kinders, asook Kay-Leigh, is in ’n stadium in 2018 in pleegsorg geplaas omdat hulle nie veilig was by haar nie. Nadat die bevel verstryk het, is die kinders egter weer na hul ma gestuur.

Verswarende faktore wat in ag geneem is, is Isaacs se vorige veroordeling van strafbare manslag en dat sy die oorledene gereeld mishandel het.

Isaacs se hulp aan die polisie en haar skuldbekentenis het die hof ’n onnodige mors van tyd bespaar is as versagtende faktore in ag geneem.

Meer oor:  Karen Isaacs  |  Montagu  |  Tronkstraf  |  Moord  |  Hof  |  Dogter  |  Kindermoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.