Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ma (77) gaan soek hulp ná aanvallers seun doodskiet

Rou snikke het Donderdag deur ’n brose 77-jarige ma se lyf geskeur toe sy vertel hoe die aanvallers haar na haar seun se kamer gevat het om haar te wys dat hy dood is.

Minute later het Lucy Lottering, wat in Februarie ’n beroerte gehad het, in die donkernag op die stofpad na haar buurman se hoewe gehardloop en geskree: “My seun! My seun! Hulle het my seun doodgeskiet!”

Carla Kotze (regs) en ’n ander kleindogter help hul ouma Lucy Lottering (77) na haar seun, Ferdie Lottering, se voertuig. Foto: Felix Dlangamandla

Roelf Lottering (52) is in sy bed op sy hoewe in Rooiwal, noord van Pretoria, vermoor. Hy is drie keer in die arm geskiet en een keer in die hart.

Die bloedspoor uit sy kamer, die gang af en by die deur uit is egter dié van een van die aanvallers wat Lottering gewond het toe hy terugbaklei het.

Die aanvallers het Donderdag net ná 01:00 gekom. Dit is die derde keer in twee jaar dat daar op die hoewe toegeslaan is. Die vorige kere, in 2018 en toe in September verlede jaar, het Lottering hulle verjaag, sê Marius Pretorius, die buurman skuins oorkant by wie Lucy gaan hulp soek het.

Pretorius sê sy honde het net voor 01:30 “tekere gegaan”.

“Ek het iemand hoor skree: ‘Help my! Help my!’ Ek het uitgegaan en die tannie by my hek gesien.

’n ID-foto van Roelf Lottering (52) wat in 1998 geneem is. Hy was volgens sy broer en suster ’n baie private mens.

“Sy het weer geskree: ‘My seun . . . My seun . . . Hulle het hom doodgeskiet. Hy is dood! Hy is dood!”

Pretorius het haar dadelik sy huis ingeneem en die Pretoria-Noord-polisie ontbied.

“Hulle was binne minute hier,” sê hy en voeg by: “Ek dink nie ek gaan ooit die tannie se gille kan vergeet nie.”

Lucy sê daar was drie mans. Hulle het haar uit haar slaapkamer geruk na die gang toe. Sy is geskop en geslaan. Haar ribbes is nog seer, beduie sy.

Toe sê die aanvallers hulle kom nou weer terug, voordat hulle na Lottering se kamer is.

Kort nadat haar seun se moordenaars vort is, het sy die donker ingehardloop na Pretorius toe.

Pretorius sê Lucy wou, toe die polisie opdaag, terug na die huis toe. Sy wou weer haar seun sien. Die polisie wou haar egter nie toelaat nie.

Marius Pretorius, die buurman wat Lucy Lottering te hulp gesnel het toe sy in die donker na sy hoewe gehardloop het. Foto: Felix Dlangamandla
Elize Olckers en Karin Roux van Crime Scene Cleaners stap verby van die bloedspore om die huis binne skoon te maak. Foto: Felix Dlangamandla
Karin Roux van Crime Scene Cleaners volg die gewonde aanvaller se bloedspoor na Roelf Lottering se kamer. Foto: Felix Dlangamandla

Sy het later die oggend nadat die polisie weg is, op die stoep gesit, omring deur vriendinne, terwyl haar ander kinders en kleinkinders van haar klere en ander benodigdhede uit die huis dra.

Ferdie Lottering en Teresa Reid, sy suster, was nog so oorweldig dat hulle nog nie mooi geweet het waarheen nie, net dat hul ma nie op die hoewe kan bly waar sy saam met hul broer gewoon het nie.

Volgens Ferdie het die aanvallers toegang verkry tot die kliphuis deur die veiligheidshek en die voordeur oop te breek en toe sy ma aangeval.

“Voordat hulle na Roelf se kamer is, het hulle vir haar gesê hulle kom terug vir haar. Dit lyk of daar (in Roelf se kamer) ’n oor-en-weer-skietery was,” sê hy en draai emosioneel weg.

Reid sê hul ma het die heeltyd gehuil toe hulle daar aankom.

’n Snuffelhond is ingespan om na die verdagtes te soek. Foto: Felix Dlangamandla

Nadat alles gepak is, het twee kleindogters hul ouma na Ferdie se bakkie gehelp. Sy het stil ingeklim. ’n Paar verwese sekondes gesit. Toe skeur die snikke weer deur haar tenger liggaam.

In die huis het die vroue van Crime Scene Cleaner die vloere begin skrop. AfriForum het hulle laat kom, sowel as ’n traumaberader wat reeds ’n afspraak met Lucy gemaak het.

Intussen het lede van die gemeenskap en private veiligheidsmaatskappye vir die soveelste keer die omgewing deursoek.

Juan du Plessis van die GAC Risk Solutions-veiligheidsmaatskappy sê hulle het saam met lede van die Bidvest Protea Coin-maatskappy die verdagtes se spoor gevolg.

“Die bloedspoor het oor ’n buurman se muur van 2 m hoog gelei, maar die bloed het later minder geword. Ons het snuffelhonde en ’n helikopter laat kom en die veld en verskeie ander persele – tot die watertenk – vir die gewonde persoon en die ander verdagtes deursoek. Die spoor het egter by die teerpad doodgeloop.

“Ons hou egter aan soek,” het Du Plessis belowe.

• Die aanvallers is weg met Lottering se vuurwapen, kontant en selfone. Dit is nie bekend of hulle dieselfde persone is wat die vorige kere probeer toeslaan het nie.

Meer oor:  Pretoria  |  Vermoor  |  Doodskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.