Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ma het gehoop Novella kry lewenslank
Doris Weitz, Gabriela Alban Kabrins se biologiese ma, in die hof nadat haar dogter se moordenaar gevonnis is. Foto: Adrian de Kock
Ek het ’n lewenslange vonnis gekry en het gehoop hy sou ook.
Slagoffer se ma.

“Ek het ’n lewenslange vonnis gekry en het gehoop hy sou ook.”

So het Doris Weitz, ma van die vermoorde Amerikaner Gabriela Alban Kabrins (34), Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad gesê nadat haar dogter se moordenaar gevonnis is.

Regter Vincent Saldanha het Diego Novella, van Guatemala, tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy hom einde Junie skuldig bevind het aan die moord op Alban.

Diego Novella, wat tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is weens die moord op Gabriela Alban Kabrins in Julie 2015 in ’n luukse hotel in Kampsbaai. Foto: Adrian de Kock

Haar lyk is op 29 Julie 2015 in die Camps Bay Retreat-hotel in Kampsbaai gevind.

Sy het halfnaak op die badkamervloer gelê.

Daar was ontlasting op haar gesig, lekkergoed is om haar gegooi en sjokolade en ontlasting is in haar mond gekry.

Daarbenewens het sy erge kopbeserings gehad, ’n gebreekte neus en gebreekte tande.

’n Haartoestel was tussen haar bene, maar nie in haar opgedruk nie.

Howdy Kabrins huil terwyl regter Vincent Saldanha sy dogter se moordenaar tot 20 jaar tronkstraf vonnis. Foto: Adrian de Kock

Die paartjie het in Kaapstad vakansie gehou toe dit gebeur het.

Weitz sê sy het gehoop Novella sou swaarder gestraf word, maar hulle aanvaar die hof se besluit.

“Hy het my kind gemartel, hy het haar van my weggeneem,” het Weitz gesê.

Saldanha het in sy vonnisoplegging gesê die dwelms wat Novella gebruik het, was nie die oorsaak van die moord nie, dit was net ’n bydraende faktor en tel nie as ’n versagtende faktor nie.

Die moordtoneel getuig daarvan dat hy Gabriela wou verneder en dit dui ook op sy woede jeens haar. Dié vernedering tel as ’n verswarende faktor, het die regter gesê.

Linda Kabrins, Gabriela se stiefma, en haar man, Howdy, Gabriela se pa. Foto: Adrian de Kock

Die staat het die hof versoek om ’n swaarder straf as die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar op te lê.

Die staat het ook versoek dat hy nie in aanmerking kom vir parool nie omdat hy ’n immigrant in SA is en uitlewering in die gesig staar.

William Booth, Novella se regsverteenwoordiger, het gesê daar was wesenlike en dwingende faktore wat Saldanha in ag kon geneem het om ’n mindere vonnis op te lê as die voorgeskrewe minimum vonnis.

Saldanha het nie die staat se versoek oor parool toegestaan nie en gesê die departement van korrektiewe dienste sal dit hanteer wanneer die tyd daarvoor aanbreek.

Hy het bevind daar is nie genoeg wesenlike en dwingende faktore om ’n mindere vonnis (as 15 jaar) op te lê nie, maar ook nie genoeg om ’n vonnis van lewenslange tronkstraf, soos die staat versoek het, op te lê nie.

“ ’n Swaarder straf as 15 jaar is geregverdig,” het Saldanha gesê.

Hy het gesê as ’n mens die gemeenskap se belange, die beskuldigde se persoonlike omstandighede, die tyd wat Novella reeds in die tronk is en sy vorige veroordelings in ag neem, is 20 jaar ’n gepaste vonnis.

Booth het ná die vonnisoplegging bevestig dat hulle gaan appelleer.

Gabriela se ouers en stiefouers sal nou terugkeer na Amerika, waar hulle, soos William Alexander, Gabriela se stiefpa, sê “vir die eerste keer in drie jaar oor die verlies van ons dogter rou”.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.