Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ma kap 3-jarige se kop met klip

‘Mamma, ek kry seer,” het die driejarige Eldino Goedeman glo geskree kort voordat hy dood is en terwyl sy ma sy koppie met ’n klip verbrysel het. Sy het hom daarna oor ’n afgrond in die heuwels buite Nababeep in die Noord-Kaap gegooi.

Alidien Goedeman en haar seun, Eldino (3) Foto: Facebook

Dit was kort voor agt en die middagson aan die sak. ’n Ent verder op die pad na Springbok was konstruksiewerk vroeër aan die gang, maar die werkers was reeds vort.

Die bonkige Alidien Goedeman (31) het daarna – met Eldino se bloed nog aan haar hande – teruggestap na die myndorpie, reguit na die polisiestasie en haarself daar gaan oorgee. Die polisiebeamptes aan diens wou haar eers nie glo nie, maar toe hulle uiteindelik na die toneel is, het hulle die bebloede lykie gekry presies op die plek wat sy aan hulle beskryf het – teen ’n rotsagtige skuinste op ’n plek wat die plaaslike mense ken as Stysie se hoogte.

Rapport verneem Goedeman het voorverlede Vrydag die kleuter op haar skouers getel en die pad suid gevat. Ma en seun het in ’n stadium verby die huis van Mannetjie van den Heever, Eldino se oupa, gestap. Dié het die kleuter nog speels oor die lyf geraps. Langs die pad het hulle ook ’n polisiebeampte vriendelik gegroet.

“My siel is nie lekker nie.”

’n Uur later was Eldino dood.

Goedeman is ’n skrynwerker en word deur inwoners as ’n “sterk vrou” beskryf. Sommige vertel dié ma baklei die laaste tyd met dwelms.

Die bejaarde Van den Heever het die afgelope Donderdag aan Rapport gesê die familie “sal eers later gesels, veral nie nou nie. My siel is nie lekker nie.”

Polisiemerkers is sigbaar teen die hang waarteen die driejarige Eldino Goedeman afgegooi is. Foto: Facebook

Hy het Dinsdag buite die hof op Springbok gesit tydens Goedeman se verskyning. Hy het gesê hy was “moerig oor die joernaliste wat daar so rondgedwaal het”.

Vroeër het hy aan ’n dagblad vertel hoe Eldino soms lekkers “op die boek” by die kafee gaan “koop” het en dan moes sy oupa dit later gaan betaal.

Volgens brig. Mohale Ramatseba, ’n polisiewoordvoerder, is die motief vir die moord nog onbekend. Goedeman verskyn weer op 28 Februarie in die hof en bly in aanhouding.

Meer oor:  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.