Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ma kry interdik teen Mike Bolhuis oor ‘martelseun’ se goed

Die vermeende martelaar Marcell van der Westhuizen se ma het ’n tussentydse beskermingsbevel teen die private ondersoeker Mike Bolhuis verkry omdat hy haar glo teister en weier om al haar seun se besittings aan haar terug te besorg.

Lizelle Taljaard, ma van die vermeende martelaar Marcell van der Westhuizen. Foto: Deon Raath

Bolhuis se prokureur, Ntsako Risenga, het vroeg in April alleen – maar met ’n siekbrief vir Bolhuis – by die landdroshof in eMalahleni opgedaag om dié bevel te beveg.

“Die landdros het egter gesê Bolhuis moet op 21 Junie daar wees om sy saak te stel,” sê Lizelle Taljaard (48). Sy is woedend.

“Mike het dinge van my seun se selfoon afgelaai en ook nie, soos die bevel dit duidelik maak, al my kind se eiendom terugbesorg nie.”

Oor haar seun is sy filosofies.

“Ek maak nie verskonings vir my kind nie. Hy weet wat hy gedoen het,” het Taljaard Donderdag aan Rapport gesê.

Sy sê voordat enigiemand van die beweerde marteling geweet het, het haar seun Bolhuis self genader vir hulp met sy dwelmprobleem.

‘Ek was nêrens naby daai huis nie.’

“Marcell was in daardie stadium in Richardsbaai. Ek het hom gaan haal en na Mike toe gevat.

“Mike het gesê dit gaan R20 000 kos vir ’n maand in sy rehabilitasiesentrum. Ons moes ’n deposito van R10 000 betaal en dan kon ons die res afbetaal. My eksman het die R10 000 betaal en Marcell is opgeneem.”

Nadat haar seun in die I Am Recovery Ministries-rehabilitasiesentrum in La Montagne, Pretoria, in hegtenis geneem is, het sy en Bolhuis stry gekry.

“Ons wou die geld terughê wat my eksman betaal het, want Marcell is mos nie meer in die sentrum nie. Bolhuis het toe skielik omgeswaai en my begin beskuldig dat ek medepligtig was. Hy het in stemboodskappe vir my gesê ek het my seun geherberg.”

Die slagoffer het die Pretoriase misdaadintelligensiespesialis Shaun van Coller aangestel om Marcell op te spoor. Van Coller sê hy het die “proses begin en gou die spoor opgetel”.

“Ons het geweet hy is in Richardsbaai en was naby om hom te gaan haal toe ons ’n voëltjie hoor fluit dat hy in die rehabilitasiesentrum is,” sê Van Coller.

Hy sê hy het op 1 Maart vanjaar by Bolhuis se kantoor ingestap en ’n pak foto’s van die slagoffer se beserings voor hom neergesit. “Ek het vir Mike gesê die ou wat dit gedoen het, is in sy rehab. Ons het reëlings getref en ek het saam met die polisie gegaan om Marcell aan te keer.”

Van Coller sê Bolhuis het hom gevra om van Marcell se besittings by Taljaard te gaan oplaai. Hulle moes mekaar by die eMalahleni-polisiekantoor ontmoet.

Vir Taljaard het Bolhuis in ’n stemboodskap (waarna Rapport geluister het) gesê: “Een van my cyber crime-ouens, Shaun van Coller, sal jou daar ontmoet.”

Hy sê ook verskeie kere vir Taljaard sy is onder sy “beskerming”.

Van Coller ontken dat hy vir Bolhuis werk. “Ek is nie en was nog nooit in sy diens nie. Ek wil ook graag weet wat presies hierdie ‘beskerming’ in ’n kriminele saak behels.”

Hy het Taljaard ontmoet.

“Sy het vir my drie vuilgoedsakke met klere en dokumente en ook een kleiner plastieksakkie met Marcell se kinders se geboortesertifikate en geheuekaarte met hul babafoto’s op gegee. Ek het alles vir Mike-hulle gegee.”

Taljaard sê sy het net die kleiner sakkie teruggekry.

Bolhuis ontken die teisterbewerings ten sterkste en sê: “Die bevel is slegs ’n tussentydse bevel. Ons gaan dit beslis teenstaan.”

* Lees ook: Gemartel: 'n Aand van wrede foltering

Meer oor:  Mike Bolhuis  |  Marteling  |  Dwelms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.