Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ma vergiftig glo dogtertjie (5) vir polisgeld

’n Ma van Senekal in die Vrystaat het twee polisse op haar vyfjarige dogtertjie se lewe uitgeneem en haar daarna met die Temik (aldikarb) vergiftig.

Dit is die bewering wat die staat teen die ma, Thakanse Machisa (47), maak.

’n Onderwyser en ’n groep leerlinge het op 14 Maart vanjaar op klein Alina Machisa sterwend onder ’n boom in Senekal afgekom. Sy het alleen langs die pad met ’n 2-liter-koeldrankbottel in haar hand gelê en is oomblikke later dood.

Die staat beweer Machisa en Maipato Mokhethi (45), ’n familievriend, het vroeër vanjaar twee begrafnispolisse van altesaam R300 000 op die kind se lewe uitgeneem.

Op 1 Maart het Machisa en Mokhethi, albei van die Matwabeng-township by Senekal, glo ’n moordkomplot gesmee om die meisietjie te vermoor. Volgens die staat het Mokhethi tien dae later die gif Temik (ook bekend as Two Step) aan Alina se ma gegee.

Die oggend van 14 Maart het Machisa na bewering haar dogtertjie vergiftig deur gif in haar koeldrankbottel te gooi en dit oor haar broodjie te strooi. Op pad dorp toe het Machisa haar dogtertjie na bewering gedwing om haar kos te eet en die koeldrank te drink. Toe die kind siek word, het sy die meisietjie onder ’n boom gelos en weggestap, luidens die klagstaat.

Net ná klein Alina se dood het haar ma glo aan Hollard Insurers en Capitec Bank voorgegee dat die kind haar eie lewe geneem het. Machisa is in verband met dié voorval vir ondervraging aangekeer. Tydens ondervraging deur die polisiebeamptes het sy erken dat sy haar kind vermoor het, sê die staat.

Sy en Mokhethi moet later vandeesmaand op aanklag van moord en twee aanklagte van bedrog in die rondgaande hooggeregshof in Phuthaditjhaba verskyn.

Meer oor:  Senekal  |  Kindermoord  |  Gif  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.