Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ma vermoor, pa in hof, dogter praat

“My ma was ’n pragtige engel op aarde, vasgevang in ’n baie lelike wêreld,” het ’n vrou van Uitenhage gister vertel, net ure nadat haar pa met voetboeie in ’n plattelandse landdroshof verskyn het op ’n aanklag van moord.

Martizélle van der Linde (22) se pa, Marthinus Wessel van der Linde (46), word daarvan verdink dat hy eers haar ouma, Drusilla Vorster (61), by haar werkplek met ’n mes in die maag gesteek het en daarna haar ma, Maritsa van der Linde (43), op dieselfde toneel met dieselfde mes om die lewe gebring het.

Marthinus Wessel van der Linde gisteroggend in die beskuldigdebank in die landdroshof op Joubertina. Foto: Lulama Zenzile

Polisiebeamptes het hom Dinsdagoggend, sowat 20 minute ná Maritsa se moord, in hegtenis geneem, terwyl hy op die grond gesit en rook het by die deur van die Kloof-apteek op Joubertina, waar Vorster gewerk het.

Vorster het voorheen voltyds by die apteek gewerk, maar doen deesdae net deeltyds administratiewe werk daar.

Martizélle het vertel haar ma het saam met haar ouma na Joubertina gegaan om werkservaring in die apteek op te doen in die hoop om dalk werk as kassiere by ’n apteek op Uitenhage te kry.

Volgens Martizélle was haar verhouding met haar pa ’n geruime tyd reeds troebel voor sy oplaas in haar matriekjaar alle kontak met hom verbreek het. Sy het hom egter sowat ’n jaar later weer in haar lewe toegelaat om sodoende kontak met haar ma te behou.

Ongeveer twee weke gelede het haar ma van Koppies in die Vrystaat, waar haar ouers gewoon het, na Uitenhage gekom om by haar te kuier.

Martizélle sê haar ma het onveilig gevoel in die Vrystaat en wou ’n nuwe begin in Uitenhage maak.

Sy sê sy het haar ma die afgelope Saterdag laas gesien, voor sy saam met Vorster na Joubertina vertrek het.

Marthinus het na bewering ook vanuit die Vrystaat na Uitenhage geryloop, waarna hy Maandag weer na Joubertina geryloop het.

Martizélle van der Linde en haar ma, Maritsa.Foto: Verskaf

Dorpsmense het hom glo die aand voor die moord deur die Joubertina se straat gesien dwaal.

“Joubertina is maar ’n klein dorpie. Almal ken mekaar. ’n Vreemde gesig staan uit, veral as hy op die straat rondhang,” het ’n inwoner gesê.

Martizélle sê: “Ek was die laaste een met wie my ma gepraat het. Ek het boodskappe op WhatsApp die Dinsdagoggend gestuur en haar van die betogings op die pad vertel. Die laaste boodskap was om te sê ek is veilig by die werk.

“Sy het nie die boodskap gelees nie, ek het geglo sy is besig. Toe kom die wreedste oproep van my lewe.”

Marthinus het Maritsa na bewering Dinsdagoggend in die apteek gegryp en met ’n mes teen haar keel na ’n agterste kantoor gedwing waar Vorster gewerk het. Hy het al die ander mense in die apteek glo buitentoe gejaag. Hy het Vorster ook glo beveel om die apteek te verlaat, maar toe sy weier, het hy haar na bewering met die mes in die maag gesteek, waarna sy wel toe buitentoe gegaan het. Kort daarna is Maritsa ook verskeie kere gesteek.

Teen 09:05 was sy dood en het Marthinus op die apteek se drumpel gesit en rook.

Die ingang van die Kloof Apteek op Joubertina waar Marthinus van der Linde die afgelope week in hegtenis geneem is.Foto: Lulama Zenzile

“Sy was vir ’n kort tydjie uiteindelik weer gelukkig. Sy het al die negatiewe energie deur die bloed van Jesus afgewas en was gereed om ’n nuwe begin te maak. Net toe sy wou lewe, is dit van haar weg gevat,” sê Martizélle.

Haar pa is gister met boeie om sy enkels by Joubertina se landdroshof ingebring waar hy aan die staatsaanklaer, Liesl Debbes, gesê het hy sal by die Suid-Afrikaanse Regshulpraad aanklop vir ’n prokureur om hom te verteenwoordig. Hy beoog ook om later om borgtog aansoek te doen.

Landdros André Aucamp het kort daarna die saak tot 30 Maart vir verdere ondersoek uitgestel. Marthinus sal tot dan in die St. Albans-gevangenis by Port Elizabeth aangehou word.

Intussen sterk Vorster aan by die huis nadat sy Woensdag uit die hospitaal ontslaan is, maar sy sal binnekort vir verdere toetse terugkeer.

Volgens Martizélle het sy nie woorde om haar gevoel oor haar pa se inhegtenisneming te beskryf nie.

“Ek kan nie sê ek haat hom nie, want dit dui gevoel vir hom aan. Ek voel niks, niks maar níks vir hom nie.

“Ons harte is op die oomblik so seer, maar ek is terselfdertyd so verskriklik kwaad. Want my ma was die mooiste mens, sy wou nie glo sy is mooi nie, maar sy was. Haar glimlag kon enigiemand se dag beter maak. Sy is nou ’n pragtige engel vir die Here.”

Meer oor:  Hof  |  Pa  |  Getuig  |  Ma  |  Steek  |  Dogter  |  Vermoor  |  Ouma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.