Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ma wat glo met skoolseuns lol weer agter tralies

Die goed versorgde ma wat van verskeie seksuele oortredings met skoolseuns beskuldig word, is weer agter tralies.

Sy is Donderdag in hegtenis geneem omdat sy na bewering een van haar borgtogvoorwaardes verbreek het. Die hof moet nou ’n ondersoek doen word om te bepaal of haar borgtog teruggetrek moet word.

Dié ondersoek kon egter nie Donderdag gehou word nie, omdat die toegewysde aanklaer of die ondersoekbeampte nie beskikbaar was nie.

Die 37-jarige beskuldigde het vinnig haar hand voor haar mond gesit om die snikke te keer toe sy hoor die ondersoek moet uitgestel word.

Die vrou, wat in ’n gegoede oostelike voorstad in Pretoria woon en die ma van drie kinders is, was verlede jaar reeds twee weke in aanhouding voordat sy op 26 November op borgtog van R7 500 vrygelaat is.

Sy is op 13 November 2019 in hegtenis geneem op tien aanklagte van onder meer seksuele gereedmaking, die toon van pornografie aan kinders, seksuele aanranding deur seuns te betas en een aanklag van aanranding nadat sy glo orale seks met ’n 14-jarige seun gehad het.

In haar destydse borgtogaansoek is aangevoer dat sy glo tussen Junie en Oktober 2019 naakfoto’s van haarself en/of video’s waarin sy haarself bevredig aan haar tienerdogter se seunsvriende en/of seuns van haar (die beskuldigde) se vriendinne sou gestuur het.

Een van die klaers se ma’s het glo op van die beeldmateriaal op sy foon afgekom.

“Dit is ’n uiters omstrede saak wat baie media- en gemeenskapsbelangstelling ontlok, en, volgens die klagstaat, is daar ’n lang lys van minderjarige kinders (betrokke).

Twee van die beweerde slagoffers was 13 jaar oud en drie van hulle 14 jaar oud. Hulle is leerlinge van twee vooraanstaande Afrikaanse skole in die stad.

Om dié rede was een van die vrou se borgtogvoorwaardes dat sy nie naby die een hoërskool mag kom nie.

Dit blyk dat sy vermoedelik die laaste voorwaarde verbreek het.

Vleis van Zyl, staatsaanklaer, het Donderdag in die landdroshof in Pretoria gesê daar is ’n “paar dae gelede” aansoek gedoen vir ’n lasbrief om die beskuldigde in hegtenis te neem.

“Dit is ’n uiters omstrede saak wat baie media- en gemeenskapsbelangstelling ontlok, en, volgens die klagstaat, is daar ’n lang lys van minderjarige kinders (betrokke).

“Een van die borgtogvoorwaardes destyds was dat die beskuldigde nie naby (die een skool) mag kom nie.

“Die arrestasie-lasbrief is gegrond op ’n verklaring van ’n (minderjarige) persoon,” het Van Zyl aan landdros Thandi Theledi verduidelik.

Hy het bygevoeg die senior aanklaer wat eintlik met die saak werk, het ’n persoonlike krisis en dat die ondersoekbeampte opleiding by ’n kursus oor seksuele misdrywe buite Pretoria aanbied. Hy kon niemand kry om vir hom in te staan sodat hy in die hof kan wees nie.

Dit het Van Zyl met die probleem gelaat dat hy nie die dossier – of enige agtergrond vir die saak – het nie.

Hy het gevra dat die ondersoek of die beskuldigde se borgtog teruggetrek moet word, uitgestel word.

Adv. Werner Jungbluth, die vrou se regsverteenwoordiger, het sterk kapsie gemaak.

Hy het gesê die vrou was reeds vroeër bewus van die lasbrief vir haar inhegtenisneming. Sy en haar prokureur het glo dadelik reëlings met die ondersoekbeampte getref dat sy by die polisie sou aanmeld.

“Die reëling wat gister (Woensdag) getref is, was dat sy vandag (Donderdag) in hegtenis geneem sou word en vandag in die hof sal verskyn en die aangeleentheid aangehoor sal word.

Die beskuldigde het ses verklarings: haar alibi, bevestiging van twee getuies, rekords van die veiligheidshek van haar woonplek wat haar bewegings sal bevestig, sowel as twee verklarings dat haar kind deur haar man en ’n vriendin na sportbyeenkomste geneem word.

“Ons is gereed om voort te gaan.

“Die verklaring waarop die arrestasie-lasbrief uitgereik is, is gegrond op ’n verklaring van ’n 16-jarige. Dit is beskikbaar. Die staat het nie die hele dossier nodig nie.

“Die beskuldigde het ses verklarings: haar alibi, bevestiging van twee getuies, rekords van die veiligheidshek van haar woonplek wat haar bewegings sal bevestig, sowel as twee verklarings dat haar kind deur haar man en ’n vriendin na sportbyeenkomste geneem word.

“Dit, en die staat se getuieverklaring, is al wat met dié ondersoek in ag geneem moet word.

“Nou, gerieflik, is nie die ondersoekbeampte of die (toegewysde) aanklaer beskikbaar nie, ten spyte daarvan dat hulle gister geweet het,” het die advokaat betoog.

Volgens hom is die beskuldigde in hegtenis geneem op grond van “ ’n bewering” en dit sou nie in belang van geregtigheid wees dat sy in aanhouding bly totdat die ondersoek na haar borgtog later aangehoor kan word nie.

Hy het voorgestel dat die vrou se borgtog verleng word en sy gewaarsku word om weer in die hof te verskyn vir die aansoek.

Theledi het bevind dat dit nie redelik sou wees om Van Zyl te dwing om voort te gaan met die saak nie en het die aansoek uitgestel.

Meer oor:  Gereedmaking  |  Seksuele Oortredings  |  Pretoria  |  Sakevrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.