Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Maaiers smul hulle dik aan MTI-karkas

Die geveg oor die verrottende karkas van die Mirror Trading International-beleggingskema (MTI) raak al morsiger met vier partye wat die afgelope week ’n hofaansoek teengestaan het om te verklaar dat die skema uit die staanspoor onwettig was.

Johann Steynberg

As dié aansoek van die voorlopige likwidateurs sou slaag, sou hulle alle geld wat beleggers gemaak het uit dié bitcoin-beleggingskema kan terugeis – selfs kommissie wat uitbetaal is vir die werwing van nuwe lede. Dít wat beleggers ingeploeg het, sal eers afgetrek word om dié winste te bereken.

Sowat R1,1 miljard is reeds in die likwidateurs se bankrekening danksy bitcoin wat opgespoor en verkoop is. Hulle het nog kriptobeursies in die visier.

Die voorlopige likwidateurs het in ’n verklaring bekend gemaak dat hulle ook R1,5 miljoen se silwer munte opgespoor het wat regstreeks aan die MTI-baas Johann Steynberg “se twyfelagtige werksaamhede by MTI verbind” word.

Hulle het ook twee maatskappye geïdentifiseer wat Steynberg vermoedelik as fronte gebruik het om ’n rits eiendomme kontant te koop nadat hy bitcoin verkoop het.

MTI het in Desember verlede jaar in duie gestort ná Steynberg soos ’n groot speld verdwyn het. Hy het ’n week vantevore na bewering die land verlaat vir ’n besoek aan Suid-Amerika. Daar is steeds geen teken van hom nie.

Clynton en Cheri Marks.

Steynberg was die enigste persoon in die organisasie met toegang tot die bitcoin en beleggers het sedertdien geen toegang tot hul kriptogeld nie.

Meer as 200 000 beleggers in 185 lande het geld belê. Die likwidateurs beraam dat die 200 beleggers wat die meeste geld gemaak het, saam met sowat R642 miljoen vort is. Baie ander het egter alles verloor.

Die voorlopige likwidateurs het die MTI-databasis bekom, maar die besonderhede van ’n groot aantal beleggers is gebrekkig. MTI het glo net ’n gebruiksnaam en e-posadres vereis, pleks van behoorlike identifikasie en ’n straatadres.

Dit is dus ’n reusetaak om die beleggers se eise te verifieer.

Die skema is in Januarie in voorlopige likwidasie geplaas en die hof het sedertdien ’n finale bevel uitgereik.

Die voorlopige likwidateurs is die afgelope week verras deur die teenstand teen hul aansoek om die skema vanuit die staanspoor onwettig te verklaar. Hulle vra ook die hof om al die ooreenkomste tussen MTI en individuele beleggers van meet af aan as onwettig en dus nietig te verklaar.

Dit was vroeg al duidelik dat Clynton Marks, wat beweer hy was ’n 50%-aandeelhouer in MTI, die aansoek sal teenstaan. Volgens die likwidateurs het Marks meer as R34 miljoen uit MTI in sy sak gesteek. Daar word wyd bespiegel dat hy en sy vrou, Cheri, wat MTI se bemarking behartig het, die ware baasbreine agter die skema is.

Marks het ook sy eie aansoek ingedien waarin hy vra dat die hof verklaar dat die 1 281 bitcoin wat die likwidateurs te gelde gemaak het, inderwaarheid aan My MTI Club behoort het en nie aan MTI nie.

As dié aansoek slaag, sal die geld nie aangewend kan word om beleggers se verliese te vergoed nie.

Met die hofsitting Woensdag het drie ander partye egter ook die likwidateurs se aansoek teengestaan. Hulle is Henry Honiball, Cecil Rowe en ’n maatskappy genaamd All Member/Investors of Mirror Trading International.

Waarnemende regter Alma de Wet het later ’n skikkingsooreenkoms tussen al die partye ’n bevel van die hof gemaak. Daarvolgens is die saak uitgestel tot 2 Maart volgende jaar.

Een van die groot twispunte is of enige werklike verhandeling met die kriptogeld ooit plaasgevind het. Die likwidateurs sê hulle kan aantoon daar was geen verhandeling nie. Die oënskynlike verhandeling was volgens hulle van die begin af ’n rookskerm vir ’n onwettige skema.

Die partye wat die aansoek teenstaan, verskil skerp daaroor. Volgens hulle was alles wettig en hulle kan glo bewys daar was wel verhandeling.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.