Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mafube-hoës moet sê hoekom hulle nie moet tronk toe

Drie hoë amptenare van die bankrot Mafube-munisipaliteit in die Vrystaat moet aan die hooggeregshof in Bloemfontein verduidelik hoekom hulle elkeen nie tot drie maande tronkstraf gevonnis moet word nie.

Mojalefa Matlole, munisipale bestuurder van Mafube, wat nou redes moet verskaf hoekom hy nie drie maande tronkstraf opgelê moet word nie.Foto: Argief

Dit was deel van die uitspraak van regter Pitso Molitsoane se tussentydse bevel Dinsdag in die hooggeregshof in Bloemfontein dat R25,4 miljoen onmiddellik aan die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) se Nasionale Voorsieningsfonds betaal moet word en dat die amptenare moet verduidelik oor R40 miljoen wat uit die munisipaliteit se bankrekening onttrek en in ’n ander rekening oorbetaal is.

Mafube het die R25,4 miljoen van die werkers se pensioene afgetrek, maar nie aan die pensioenfonds oorbetaal nie.

Mokhele Notsi, administrateur, Mojalefa Matlole, die stadsbestuurder, en Palesa Moloi, ’n direkteur, het in Julie R40 miljoen wat die regering as gelykeberegtigingstoelae aan die munisipaliteit gegee het, van ’n gevriesde bankrekening na ’n ander rekening oorgeskuif, iets wat nie toelaatbaar is nie. Dié geld was onder meer bestem vir die pensioenfonds.

In die saak was die applikant die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie Nasionale Voorsieningsfonds (Samwu se pensioenfonds) en die respondente was Mafube-munisipaliteit, Absa Bank, Notsi, Matlole, Moloi, Philip Maseko, balju vir die distrik van Frankfort/Villiers, Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), en Gadija Brown, die LUR vir finansies.

Volgens die hofstukke is ook opgeteken dat:

* Mafube die geld onder protes wil oorbetaal;

* Dat die fonds sy regte behou om weer ’n lasbrief te mag uitreik as nog geld geskuld word; en

* Dat die fonds op 20 Augustus 2019 sy finale berekenings aan die munisipaliteit sal gee.

As deel van die tussentydse bevel moet die respondente op 19 September vanjaar vir die hof sê waarom die tussentydse bevel nie ’n finale bevel gemaak moet word nie.

Die munisipaliteit, Notsi, Matlole en Moloi word daarvan beskuldig dat hulle die hof geminag het deurdat hulle nie gehoor gegee het aan ’n hofbevel van 30/3/2019 nie.

Daar word ook verklaar dat dié vier partye ’n wet oortree het deurdat hulle die R40 miljoen wederregtelik uit die bankrekening van die munisipaliteit geskuif het.

Daarom word aanbeveel dat Notsi, Matlole en Moloi, drie maande tronkstraf opgelê word.

Verder moet Absa Bank binne drie dae inligting gee aan die voorsieningsfonds wat insluit die datum waarop die R40 miljoen in die munisipaliteit se rekening gedeponeer is, asook die datum waarop die R40 miljoen uit die rekening verskuif is.

Ook moet gesê word watter verteenwoordigers van die munisipaliteit die opdrag gegee het dat die geld oorgeskuif moet word. Inligting moet ook verskaf word oor die bank, rekeningnommer en die rekeninghouer na wie die geld oorgeskuif is.

Absa het ook die instruksies gekry om die inligting binne vyf dae onder eed in te dien, terwyl soortgelyke inligting ook aan die Voorsieningsfonds verskaf moet word.

Die hof sal later beveel wie die regskoste sal dra.

Adv. Pieter van der Berg (SC) het namens McIntyre en Van der Post-prokureurs vir die applikant (Samwu se Nasionale Voorsieningsfonds) opgetree en adv. Anton Roux het namens Peyper-prokureurs vir die respondente opgetree.

* Intussen sê Zolile Lobe, woordvoerder van die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake, in ’n nuusverklaring dit is waar dat Mafube R40 miljoen van die nasionale tesourie as deel van sy gelykeberegtigingstoelae gekry het.

“Net nadat die geld in die bankrekening van die Mafube-munisipaliteit beskikbaar was, is die geld van die hoofrekening van die munisipaliteit na sy beleggingsrekening oorgeskuif. Dit was die hele R40 miljoen wat oorgeskuif is.”

Lobe sê dit is nié waar dat die geld wederregtelik geskuif is nie.

“Dit is gedoen om beter rente op die geld te verdien en waar ’n munisipaliteit in werklike groot geldnood verkeer, was dit die regte ding om te doen.”

Meer oor:  Vrystaat  |  Munisipaliteite  |  Bankrotskap  |  Tronkstraf  |  Munisipale Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.