Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Magashule se saak glo op dun ys
Moroadi Cholota

Die strafsaak teen Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, is dalk op dun ys, want sy voormalige persoonlike assistent het ontken sy het ingestem om ’n staatsgetuie te wees.

In korrespondensie met die Valke sê Moroadi Cholota sy was “verras” om ná Magashule se eerste hofverskyning voorverlede Vrydag deur die media uit te vind sy gaan teen hom getuig.

Volgens bronne in die Valke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat – wat vir Rapport se susterskoerant, City Press, e-posse tussen Cholota en die wetstoepassingsagentskappe gewys het – het sy gesê dis vreemd dat die hofstukke aandui sy gaan ’n staatsgetuie wees al is so ’n ooreenkoms nie met haar aangegaan nie.

Die saak gaan oor die R255 miljoen-tender wat in Magashule se tyd as Vrystaatse premier toegeken is om ontslae te raak van asbesdakke in townships. Van dié bedrag is net R21 miljoen in die lewensvatbaarheidstadium van die projek gebruik, terwyl die res glo in die sak van sakelui, politici en staatsamptenare beland het.

Dokumente wys Cholota, wat nou in Amerika studeer, het die Valke se provinsiale kantoor genader net ure nadat borgtog van R200 000 aan Magashule toegestaan is.

Sy het geskryf: “Ek het vandag deur die media uitgevind ek is ’n staatsgetuie, wat my verras het . . . Verskaf asseblief ’n afskrif van die eedsverklaring wat ek onderteken het waarin ek bevestig ek is ’n staatsgetuie.”

Maandag het brig. Nico Gerber van die Valke Cholota – blykbaar vir die eerste keer – ingelig sy sal as staatsgetuie geroep word. Hy het nie die eedsverklaring verskaf waarvoor sy gevra het nie. “Ek is seker teen dié tyd is u ingelig van die inhegtenisneming van mnr. Magashule. U word hiermee ingelig dat u as ’n staatsgetuie in die strafregtelike verhoor geroep sal word. As sodanig mag u nie direk of indirek met mnr. Maga­shule of sy prokureurs in verbinding tree nie,” lui sy brief.

Hy waarsku Cholota as sy nie daaraan gehoor gee nie, kan dit ernstige implikasies hê en voeg by die ondersoekbeampte sal te mettertyd met haar in verbinding tree. Hy vra sy moet hom in kennis stel as sy beplan om binnekort na Suid-Afrika te kom sodat hy ’n vergadering met haar kan reël.

Ace Magashule

Daarna het adv. Johan de Nysschen ook vir Cholota geskryf: “Ek is die staatsadvokaat in die strafsaak teen onder meer Ace Magashule. Ek bevestig die inligting en opdrag van brig. Gerber. Laat weet hom asseblief dadelik as iemand u in verband met dié saak nader.”

Sipho Ngwema, NVG-woordvoerder, hou vol Cholota gaan vir die staat getuig. “Die strafregtelike vervolging sal in die hof plaasvind, nie daarbuite nie, ook nie in die hof van openbare mening nie. Dit sal nie help as mense swak pogings aanwend om stof op te skop nie. Moroadi Cholota het saamgewerk en sy sal getuig.”

As Magashule se assistent was dit deel van Cholota se werk om sakelui te identifiseer wat met geld vir maatskaplike verantwoordelikheidsprogramme kon help. Sy het in Desember 2019 voor die Zondo-kommissie getuig van die mense by wie sy geld gevra het, was Igo Mpambani, ’n sleutelfiguur in die asbes-skandaal. Hy is later dood in wat na ’n sluipmoord lyk.

Die Amerikaanse FBI het Cholota vroeër genader “oor kwessies wat in Suid-Afrika ondersoek word”.

Die firma Victor Nkhwashu Attorneys het op 24 Oktober in ’n brief aan adv. Hermione Cronje, hoof van die ondersoekdirektoraat, geskryf Cholota is ’n student in Amerika en is “besonder lugtig vir ’n besoek van wetstoepassingsowerhede in dié land sogenaamd/blykbaar in opdrag of op versoek van u”.

Magashule staan tereg op 21 aanklagte, waaronder bedrog, korrupsie en geldwassery. Volgens die staat het hy geweet dit was onwettig om die asbestender aan Mpambani en sy vennoot, Edwin Sodi, toe te ken.

Magashule ontken die aantygings.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Moroadi Cholota  |  Hof  |  Staatsgetuie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.