Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Magashule veg nou terug teen klagte van korrupsie

Met oudpres. Jacob Zuma nou agter tralies vir minagting van die hof, het een van sy vertrouelinge, Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, met sy terugvegpoging begin teen die aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery wat hóm in die gesig staar.

Magashule vra in hofstukke wat vandeesweek by die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien is dat dié hof die Vrystaatse direkteur van openbare vervolging moet verplig om die hele polisiedossier teen hom in die sogenaamde asbesdak-ouditverhoor van R255 miljoen aan hom beskikbaar te stel.

Moroadi Cholota toe sy destyds via Zoom uit Amerika in die hooggeregshof in Bloemfontein getuig het in die verhoor van Ricardo Mettler, wat daaraan skuldig bevind is dat hy ’n Pierneef-skildery uit die premierskantoor gesteel het. Foto: Mike van Rooyen

Dié aansoek, op ’n semi-dringende basis, sal later vandeesmaand aangehoor word. Magashule en sy 15 medebeskuldigdes moet op 11 Augustus in ’n voorverhoor in die hooggeregshof op 74 aanklagte verskyn.

Adv. Johan de Nysschen, namens die staat in die verhoor, het net die A-deel van die dossier beskikbaar gestel. Hy weier om die B- en C-deel aan Magashule se regsverteenwoordigers te gee, lui die hofstukke.

Die feit dat sy voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota, ’n staatsgetuie teen hom is, is een van Magashule se groot kwelpunte, luidens sy verklaring in die aansoek.

Magashule sê hy was “geskok” toe hy in November verlede jaar hoor dat een van die voorwaardes waarop hy op borgtog van R200 000 vrygelaat is, was dat hy nie enige kontak met Cholota mag maak nie omdat De Nysschen gesê het sy is ’n staatsgetuie.

Hy sê sy huidige prokureur het Cholota gehelp om haar verklaring op te stel vir haar getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in Desember 2019.

“Ek het geweet Cholota het my nie in enigiets verkeerds geïmpliseer nie, want ek was nooit by iets verkeerds betrokke nie. Ek het gedink haar weergawe moes dus gewysig word om tot nut vir die staat te wees.

“Ek kon nie verstaan hoe die staat my vervolg en haar weergawe gebruik om dit te doen nie.”

Hy sê luidens sy regsadvies kan hy nie na haar as ’n staatsgetuie verwys nie. Sy is eerder ’n getuie vir die verdediging en kan nie deur die staat verplig word om ’n staatsgetuie te wees nie.

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC.

Hy sê vir sy voorbereiding het hy die B- en C-deel van die dossier nodig om presies vas te stel wat tussen verteenwoordigers van die direkteur en Cholota gebeur het.

Magashule meen ook dié dele van die dossier is vir hom noodsaaklik om aan hom dokumentêre bewyse te voorsien dat daar onder meer politieke knoeiery was wat tot sy vervolging gelei het en ook dat daar moontlike manipulasie en/of intimidasie van getuies deur die polisie was om valse getuienis teen hom af te lê.

Magashule, as beskuldigde 13 op die klagstaat, sê die volledige dossier kan ook meer lig werp oor hoekom die asbesdak-oudit van tussen 2014 en 2015 eers ná die getuienis van Mxolisi Dukwana voor die Zondo-kommissie ondersoek is. Dit is bekend dat Dukwana ’n politieke vyand van hom is nadat Magashule, destyds as premier van die Vrystaat, vir Dukwana uit sy provinsiale kabinet ontslaan het.

• Indien Magashule op van die aanklagte teen hom skuldig bevind word, word hy deur minimum vonnisse van tot 15 jaar tronkstraf in die gesig gestaar.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Bloemfontein  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.