Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Makaula onttrek hom ‘in belang van geregtigheid’

Hoewel regter Mandela Makaula van mening is dat daar geen gronde bestaan vir hom om homself te onttrek as regter in die past. Timothy Omotoso-verhoor nie, het hy dit tog gedoen in die belang van geregtigheid.

Makaula het hom Vrydag in die hooggeregshof in Port Elizabeth amptelik aan die saak onttrek en het die redes vir sy besluit by die hofrekord laat inlees.

Sy besluit kom nadat dit aan die lig gekom het dat sekere staatsgetuies tydens die verhoor in ’n gastehuis gebly het waarin sy vrou ’n finansiële belang het.

Past. Timothy Omotoso sluit sy oë terwyl hy in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth sit. Langs hom is Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho, sy medebeskuldigdes. Foto’s: Lulama Zenzile
Past. Timothy Omotoso in die hof.
Regter Mandela Makaula het homself aan die verhoor onttrek.
Cheryl Zondi, ’n staatsgetuie, sal weer moet getuig.

Omotoso (60), ’n TV-evangelis, en sy medebeskuldigdes, Zukiswa Sitho (36) en Lusanda Sulani (26), word daarvan aangekla dat hulle jong meisies landwyd vir seksuele voorbereiding gewerf het.

Hulle staan ook tereg op aanklagte van mensehandel, seksuele aanranding en rampokkery.

Makaula het daarop gewys dat daar in die lig van die debakel oor die gastehuis nie ’n aansoek voor die hof gebring is vir hom om homself aan die saak te onttrek nie.

Hy doen dit in elk geval, want sy vrou se finansiële belange in die gastehuis kan dalk in die toekoms gebruik word om hom bevooroordeeld te laat lyk, en kan dan gebruik word as gronde vir ’n aansoek om ontslag.

“Ek het geen insae in waar die staatsgetuies gehuisves word nie. Ek glo die regte ding om te doen is om my aan die saak te onttrek.”

Selby Mbenenge, hoofregter van die Oos-Kaap, het die hofverrigtinge tydelik by Makaula oorgeneem en het bevestig dat die verhoor weer van voor af sal begin.

Dit beteken dat die staatsgetuie Cheryl Zondi ook weer van voor af sal moet getuig.

Mbenenge wou by die staat en die verdediging weet hoe hulle oor die media-instellings voel wat die hofverrigtinge regstreeks uitsaai.

Die beskuldigdes se prokureur, adv. Peter Daubermann, het gesê hy gaan daaroor kapsie aanteken wanneer die verhoor hervat.

“Getuies wat in ’n strafregtelike verhoor moet getuig mag nie in die hof sit om te hoor wat ander getuig nie, maar in dié geval is dit op die televisie.

“Ek probeer nie die media muilband nie. Hulle het die reg om te berig oor die saak, maar nie om dit regstreeks uit te saai nie.”

Daubermann, wat vroeër gekritiseer is oor sy trant van kruisondervraging van Zondi, het die oë laat rek toe hy noem dat 21 vroue namens die staat gaan getuig.

Hy het gesê indien die staat ’n sielkundige gaan inroep om die vroue tydens hul getuienis by te staan, hy nie daarteen gekant sal wees nie.

Mbenenge het die saak tot 30 Julie uitgestel. Sulani en Sitho se borgtog is verleng. Omotoso bly in aanhouding.

Meer oor:  Timothy Omotoso
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.