Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Malema en oudlid van EFF pak mekaar in lastersaak

Julius Malema, leier van die EFF, en een van sy party voormalige LP’s het mekaar Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth gepak in ’n lastereis van R1 miljoen.

Die hofgeding, wat deur waarnemende regter Nick Mullins aangehoor is, het gevolg nadat Thembinkosi Rawula Malema en Floyd Shivambu, onderleier van die EFF, op sy Facebook-blad daarvan beskuldig het dat hulle miljoene rande van die party se geld vir hulself toegeëien het.

Rawula het ook beweer die EFF was betrokke by die plundering van VBS Mutual Bank.

Godrich Gardee, die EFF se sekretaris-generaal, het die hofgeding in Port Elizabeth bygewoon. Gardee gesels met Malema se regspan, Angelike Charalambous, en Kameel Premhid. Foto’s: Lula Zenzile

Rawula het in April as LP en EFF-lid bedank.

Malema het aansoek gedoen om ’n hofbevel dat Rawula die uitlatings van sy sosialemediaplatforms verwyder word, en eis ook dat Rawula nie net sy stellings op Facebook en al sy ander sosialemediaplatforms onvoorwaardelik terugtrek nie, maar ook om verskoning vra.

Rawula moet ingevolge sy aansoek ook verbied word om enige ander lasterlike uitlatings oor Malema te maak.

Mullins het Donderdag sy uitspraak voorbehou.

Adv. Kameel Premhid, Malema se regsverteenwoordiger, het gesê Rawula se uitlatings op sowel Facebook, as op radiostasies en op televisie, was ’n poging om Malema se reputasie skade aan te doen.

Volgens Premhid het Rawula geen bewyse voor die hof geplaas om sy lasterlike uitlatings te staaf of te bewys nie.

Thembinkosi RawulaFoto: Argief

Hy meen die uitlatings is veral lasterlik, in die lig daarvan dat Malema sy politieke reputasie gebou het deur uit te praat teen korrupsie en korrupte politici, en veral teen oudpres. Jacob Zuma.

Premhid sê Rawula se uitlatings is ’n geval van suur druiwe, omdat hy met die laaste EFF-verkiesing nie die lys gehaal het om weer as LP in die parlement aangestel te word nie.

Die onus rus op Rawula om bewyse vir sy stellings te gee.

“Dinge sou anders gewees het as hy in die parlement opgestaan en die uitlatings gemaak het, maar in die openbaar het hy nie die reg om dit te doen nie.

“Enige redelike persoon op straat kan tot die gevolgtrekking kom dat daar waarheid steek in sy aantygings.

“Die uitlatings is op swart en wit gemaak en dit maak inbreuk op Malema se karakter. Sy inskrywing is oor en oor gedeel en wie weet hoeveel mense het dit oor die radio gehoor en gesien op televisie.”

Oor die mediaberigte wat Rawula ingedien het in ’n poging om sy aantygings dat Malema korrup en onbetroubaar is te staaf, sê Premhid dit is blote aantygings en bewerings.

Wat betref Rawula se bewerings oor VBS-geld, meen Premhid in die amptelike verslag wat oor VBS uitgereik is, is daar geen melding gemaak van die EFF of Malema nie.

“Die uitlatings is gemaak ’n maand voor die verkiesing. Hy wou Malema se politieke reputasie skade aanrig. Hy sou almal ’n klomp geld en tyd gespaar het as hy sy uitlatings in April teruggetrek het toe hy gevra is om dit te doen,” het Premhid gesê.

Rawula, wat homself verdedig, se aansoek om bykomende inligting, wat insluit video-opnames waarin Malema sekere uitlatings maak, is van die hand wys.

Hy wou deur dié bandopnames bewyse lewer oor Malema se “karakter”.

Volgens Rawula was sy bedoeling nie om Malema se reputasie skade aan te doen nie. Hy sê die uitlating het gegaan oor die EFF as party en nie oor Malema as persoon nie.

Hy het genoem dat die EFF vergaderings belê het oor die VBS-saga. Ná dié vergaderings was hy nie bereid om as ’n kollektief geïmpliseer te word in die VBS-kwessie nie.

“Die leierskap was ongelukkig oor my standpunt.

“Ek het my daarna in die party se buitekringe bevind. Hulle het my geïsoleer en ek het besef my dae in die party is getel.”

Rawula beweer hy het sy bedanking onder dwang ingedien kort nadat die party se nasionale woordvoerder op televisie aangekondig het hy is bly om te sien Rawula verlaat die party.

“Die party het my uitgeskop. Ek het bedank, want as jy dalk by ’n ander party wil aansluit, is dit beter om te kan sê jy het bedank eerder as dat jy uit die party geskop is.”

Rawula meen die EFF se geloofwaardigheid met betrekking tot die VBS-kwessie is nog nie in die oë van die publiek herstel nie.

Rawula het ten slotte gesê hy het die inskrywing in April reeds van sy Facebook-blad af verwyder.

Meer oor:  Thembinkosi Rawula  |  Floyd Shivambu  |  Julius Malema  |  Oud Eff-Lid  |  Laster  |  Hof  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.