Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Malema se wit lyfwag in pekel

Julius Malema se lyfwag is ná sy openbare magsvertoon opnuut in die kollig van die na­sionale vervolgingsgesag (NVG) vir ’n transitorooftog wat hy glo beplan het.

Adriaan Snyman pas Julius Malema by ’n vorige hofverskyning op. Foto: Felix Dlangamandla

Adriaan (Archie) Snyman het in 2011 begin aandag trek toe hy aan Malema se sy was tydens sy haat­spraak-verhoor oor die sing van “Skiet die Boer”. Die regter het Snyman en kie met hul wapens uit die hofsaal verjaag.

Verlede week was Snyman weer in die kollig toe hy gedurende die EFF se vyfjaarvieringe in die Oos-Kaap wat lyk soos ’n vuurwapen vir Malema aangegee het om sewe skote in die lug in te vuur.

Op ’n videogreep van die voorval is Snyman duidelik sigbaar waar hy die (skynbare) wapen ná die skietery by Malema neem en van die verhoog af verdwyn.

‘Vuurflits was duidelik sigbaar.’

Maar dit was wat tussen die twee omstrede voorvalle gebeur het wat die NVG nou opnuut bekyk. Snyman is in 2011 in hegtenis geneem weens sameswering om ’n transitorooftog in 2007 te pleeg.

Die “Bielie van die Bluff”, soos sommiges in die veiligheidsbedryf na hom verwys, is daarvan beskuldig dat hy en twee voormalige kollegas van die sekuriteitsmaatskappy SBV ’n geldwa van dié maatskappy wou beroof.

Die polisie se georganiseerde misdaadeenheid in Cato Manor, wat later – onskuldig – gedoop is tot ’n “moordbende”, het ’n lokval vir die vermeende transitorowers gestel.

’n Skermgreep van EFF-leier, Julius Malema, wat by ’n skare ’n vuurwapen afvuur.

Die verhoor het begin in die Durban-streekhof, maar die landdros het haarself van die verhoor onttrek omdat die verdediging gemeen het sy is partydig en kop in een mus met die “Cato-moordbende” wat in daardie stadium in ’n politieke magstryd betrokke was.

Die NVG het nooit weer die saak op die rol geplaas nie en skielik besluit daar is nie gronde om hulle weer aan te kla nie.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die NVG, sê die direkteur van openbare vervolging in KwaZulu-Natal, adv. Moipone Noko, het die afgelope week die dossier aangevra om opnuut na die saak te kyk.

Die reguleerder van die private veiligheidsbedryf (Psira) ondersoek Snyman nou óók vir die skietvoorval, sê Siziwe Zuma, woordvoerder van Psira.

Snyman het die maatskappye Tactical Security Services (TSS) in 2008 begin. Luidens sy webwerf is TSS verbind tot die “uitwissing van misdaad in gemeenskappe en help hy die polisie en enige ander misdaadbestrydingsinisiatief om dié doelwit te bereik.”

Ná Snyman se inhegtenisneming vir die transitoroofplan het Psira sy registrasie opgeskort.

Adriaan “Archie” Snyman in die voorgrond het die vuurwapen by Malema gevat ná die skote.

Zuma sê Snyman se registrasie is in 2012 heringestel toe hy nie meer ’n beskuldigde was nie.

Brig. Vish Naidoo, ’n polisiewoordvoerder, het ook bevestig die polisie ondersoek die voorval. Onder meer AfriForum het ’n klag teen Malema en Snyman ingedien.

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het die voorval afgemaak en gesê dit was nie ’n regte vuurwapen nie.

Kenners sê dis sommer bog.

Adv. John Welch van die Vuurwapeneienaarsvereniging van Suid-Afrika sê die vuurflits uit die wapen wat Malema afgevuur het, is duidelik sigbaar. Geen loskruitpatrone (blanks) kan só ’n flits veroorsaak nie – net skerppunt-ammunisie. Hy sê die polisie gaan egter óf die vuurwapen moet ondersoek óf doppies van die toneel kry om dit in ’n hof te bewys.

“Op sigwaarde lyk dit soos ’n AK-47 of anders ’n baie soortgelyke wapen. Die afvuur van ammunisie of loskruitpatrone in ’n beboude of openbare plek waar honderde mense is, is misdadig en strafbaar met tot vyf jaar tronkstraf.”

Dit is strydig met art. 120(7) van die Vuurwapenbeheerwet.

Welch sê selfs indien dit ’n nagemaakte geweer sou wees, was die optrede waarskynlik steeds onwettig ingevolge die Wet op Gevaarlike Wapens.

Volgens kenners is die video te onduidelik om presies te bepaal wat se wapen dit is. Dit kan ook ’n AR-15 semi-outomatiese geweer wees omdat dié wapen lig en gesog is in die Suid-Afrikaanse veiligheidsbedryf.

Volgens Rory Steyn, oudpres. Nelson Mandela se voormalige lyfwag en veiligheidspesialis, is dit ’n lyfwag se primêre doelwit om sy kliënt te beskerm en nie om by ’n openbare magsvertoning betrokke te raak nie.

Meer oor:  Skietvoorval  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.